Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brand by Vishoek
’n Inwoner van Masiphumelele slaan die verwoesting gade wat ’n brand in die township aangerig het. Saam met ander kerke het die NG gemeente Vishoek ingespring om die nood te help verlig. Foto: Verskaf

Vishoek bring verligting vir brandslagoffers

Na nog ’n verwoestende brand in die Vishoek-omgewing het NG lidmate weereens ingespring om die nood te help verlig.

Sowat 4 500 inwoners van die informele nedersetting in Masiphumelele, wat tussen Kommetjie en Vishoek geleë is, is dakloos gelaat nadat hulle huise op 28 November 2015 deur die brand verswelg is.

Volgens ds Jan van Heerden, leraar by die NG gemeente Vishoek, het hulle die Maan­dagoggend na die brand na ’n versamel- en verspreidingspunt gegaan om te hoor waarmee hulle gemeente kan help. “Dit was hart-verskeurend om ’n mens tussen al die as en al die verkreukelde sinkplate op ’n emmer te sien sit, daar waar die vorige dag nog ’n gehuggie was,” vertel hy.

Van Heerden sê hulle gemeentelede was betrokke by die smeer van toebroodjies asook die aankoop van vrugte en water wat gebruik is om in die oggende ’n basiese ontbyt te voorsien. “Die fondse wat ons van Ar-moede en Sorg in Wes-en-Suid-Kaapland ontvang het, is hiervoor aangewend. Die res van die skenking gaan aangewend word om twee gesinne te help om weer al die basiese benodighede aan te koop om as ’t ware weer op hulle voete te kan kom,” sê hy.

Hy vertel dit was “weer ’n fantastiese belewenis om te sien hoe die gemeenskap en elke moontlike kerk of geloofgemeenskap” betrokke geraak het.

“Dit is vir ons ’n wonderlike voorreg om as geloofsgemeenskap juis in sulke omstandighede die hande en voete van Jesus te wees. Al is dit om op ’n baie geringe manier verligting te bring en só die omgee en liefde van Jesus te demonstreer.”

Vroeër verlede jaar het verskeie brande in die suidelike Skiereiland verwoesting gesaai. Die NG gemeente Vishoek het toe hulle kerksaal in ’n slaapplek vir hawe-lose bejaardes omskep en die Groote Kerk se Noordhoek-kampterrein is in ’n noodsentrum vir gemeenskapslede omskep.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top