Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die herhaling van “O Here, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!” in vers 2 en 10 van Psalm 8 vorm ’n sirkel wat die gedig omsluit. Dié omarming bevestig dit wat die Psalm van getuig, naamlik dat die Here ons ganse bestaan omsluit. Alles staan in die teken van God se grootheid en van sy sorg.
Die feit dat die Here die ganse werklikheid omsluit, word deur vers 4, wat die hemelliggame as tema het en vers 8 en 9, wat die “aardse liggame” (by wyse van spreke) as tema het, bevestig. So vorm dit ’n sirkel binne die wyer sirkel van vers 2 en 10. Ons ganse werklikheid, ja hemel en aarde, staan onder sy sorg. So benadruk die digter sy geloofsoortuiging, naamlik dat die Here sy ganse skepping en dus ook vir my in sy sorg omsluit.
Met vers 2 se tweede deel en vers 3 bevestig die digter die Here se grootheid en mag. Hulpelose kinders, hulle wat van nietige mense (hulle ouers) se sorg afhanklik is, hulle is voldoende om die Here se teenstanders die loef af te steek. God se grootheid word in die kleine sigbaar.
Ons kan ook sê dat die Here in sy grootheid ons in die hulpelose, die magtelose, die onaansienlike, die weerlose, ja die klein dingetjies ontmoet. In my weerloosheid word die grote God geken.
Vers 5-7 vorm die kern van die gedig. Die mens staan in die sentrum van die Here se sorg. Uit die aard van die saak is dit ’n tipies menslike kyk na die werklikheid – “ek is die sentrum van die wêreld”. Tog is dit die geloofsbelydenis van die digter. Die mens staan in die middel, want dit is sy ruimte. Hy is minder as ’n god, maar hy is meer as ’n dier.
Menslike bestaan het grense. Om die grense van my bestaan te oorskry is om nie meer mens te wees nie. Wanneer ek my aan mag vergryp, steek ek die grens na die goddelike oor. Wanneer ek in my gedrag na die vlak van die ongekontroleerde instink daal, steek ek die grens na die dierlike oor.
Ek is ’n grensmens – tussen God en dier, daar is ek volledig mens, daar is ek heel.
▶ Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda.
