Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Darius Botha
Die lewensvreugde straal uit ds Darius Botha uit terwyl hy gesels oor sy en ander se reis met kanker. Foto: Marileen Steyn

‘Kanker is nie die einde van menswees nie’

Nadat hy met maagkanker gediagnoseer is, het medici ds Darius Botha nege maande gegee om te lewe. Dit is nou twee jaar later en Botha het pas sy doktorsgraad suksesvol verdedig: Prediking en die mens geaffekteer deur kanker. Marileen Steyn het met hom gesels.


Darius Botha stap al ’n lang pad met kanker. Sy tweeling kinders, Carine en Tobie, is op onderskeidelik ses en agtien jaar aan kanker oorlede. Tydens beide sy kinders se reis met kanker en later ty-dens sy eie reis daarmee het Botha opnuut sy sekerhede bevraagteken en het hy wéér en wéér met die Here gewroeg.

“’n Mens verander,” vertel hy. “Dit waaraan jy vasgehou het, raak onduidelik. Soms sê ’n mens selfs slegte goed. Maar God kan dit hanteer. Hy verstaan en sy genade bly vir my genoeg.”

In die stryd teen kanker is daar egter méér as net woede, onsekerheid, hopeloosheid of hartseer. Botha beleef mense wat deur kanker geaffekteer word, telkens as positief, vol lewensvreugde en moed. Dit is mense wat besig is om die lewe, eerder as die dood, in die gesig te staar.

Tog word hierdie fasette van die stryd misgekyk. Botha verwys na die positiwiteit en humorsin wat sy kin-ders en ander gediagnoseerdes nog tot op die laaste oom-blikke getoon het.

“Mense sê dat iemand sy stryd teen kanker verloor het, maar dit breek die menswaardigheid van daardie persoon af. As ek in chemoterapie instap, word ek begroet met ’n kolonie van positiewe en blymoedige mense. Hoe kan sulke mense ooit die stryd verloor?”

Vrae soos “Hoe lank nog?”, “Hoe ver is dit gevorder?” en uitroepe van verbasing soos “Sjoe, maar jy lyk gesond!” impliseer volgens Botha dat daar nie lewensin en vreugde te midde van kanker kan wees nie, asof die vreugdes van menswees en lewe met ’n diagnose stop-gesit is. “Kanker is ’n siekte,” verduidelik hy. “Dis nie die einde van menswees nie.”

Dit is hierdie reaksie op kanker wat die dryfveer agter Botha se studies gevorm het: Hoe kan die mens geaffekteer deur kanker nog lewensin en vreugde hê en hoe kan prediking ’n rol daarin speel?

’n Ander raamwerk

Botha sê dat sowat drie uit elke 10 mense deur kanker geaffekteer word. Dus is kanker vir net minder as ’n derde van elke gemeente ’n werklikheid. Die erediens is ’n geleentheid om hierdie groep te ondersteun.

As deel van sy studies, het Botha ’n alternatiewe raamwerk vir die trauma- en verliesproses bespreek. Dit is gebaseer op Jesus se afskeidsgesprekke in Johannes 13 tot 17. Dit is gesprekke wat handel oor intimiteit, die weerloosheid van die dissipels, die gebrek aan fasades asook die aankondiging van ’n nuwe werklikheid en nuwe rolle en die geleentheid vir nuwe perspektiewe.

Tydens hierdie gesprekke sien ’n mens hoe Jesus sy hand na die dissipels uitreik, hulle aan die hand vat, hulle lei en dan weer hul hande laat gaan. Volgens Botha moet die prediking en bediening aan die mens geaffekteer deur kanker dieselfde proses van uitreik, fisiese ondersteuning, leiding en afskeid deurwerk.

Onderliggend aan hierdie proses is die metafoor van ’n reis. In sy studie maak Botha ’n punt daarvan dat kanker nie ’n eindpunt is nie, maar ’n reis wat met ’n mate van onsekerheid en onduidelikheid gepaard gaan. Om leiding te bied, gaan in hierdie geval meer oor saam soek, as om die antwoorde en wysheid te hê.

Juis daarom is vinnige antwoorde op die vrae rond-om kanker nie gepas nie.

Wees ’n second

Predikante (en gemeentelede) kan eerder die rol van ’n ‘second’ speel. ’n Second is die persoon wat tydens ’n maraton die atleet ondersteun. Die second hardloop nie self nie, maar ondersteun die een wat wel hardloop.

Hoe lyk hierdie ondersteuning? “Soms moet ’n mens net stilbly en iemand se hand vashou. Moenie antwoorde gee nie, maar vra eerder vir die persoon wat jy vir hom of haar sou kon doen om hulle te ondersteun.”

Botha herinner dat mense wat geaffekteer is deur kanker, jou toelaat om op hulle heilige grond te loop. Botha verwys na die spreekwoord: “Fools rush in where angels fear to tread” en waarsku dat ons nie op ander se heilige grond met “wysheid” moet inhardloop nie.

“Stop eerder, bly stil, trek jou skoene uit en vra of jy saam met die persoon kan reis. Waar julle uitkom is nie belangrik nie. Dis die reis wat belangrik is,” sê Botha.

Vir Botha gaan prediking vir die mens geaffekteer deur kanker dus minder oor die praat en meer oor die luister en saam soek. Dit is prediking wat onkunde er-ken en soms sy uitsprake beperk tot “Hierdie is tough.”

Hoe lyk die pad vorentoe vir Botha? Dit kan hy nie met sekerheid sê nie. Maar hy weet dat hy, nes almal, vandag het. Hy weet dat God, sy genade en liefde, die onderbou van alles is. En vir hom is dit genoeg om vandag, met of sonder kanker, te lewe.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top