Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Bybellees, bid en beraad in die veld … ek het nooit gedink dit sou my bediening word nie’ – Kapelaan vertel

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Nicolene Herbst skryf:

Ek is op 21 November 1981 op Parys in die Vrystaat gebore. Het grootgeword op ’n plaas (Vrede) naby ’n klein dorp met die naam Koppies. Ek was die derde van vier kinders en het gematrikuleer aan Hoërskool Sarel Cilliers. Ek het aan die Universiteit van Pretoria Teologie studeer en my praktiese jaar in Louis Trichardt (vandag Makhado) gedoen. Gedurende my praktiese jaar was die Braambos Lugmagbasis op Louis Trichardt een van my gereelde bedieningspunte op ’n Sondag.

Hierna word ek jeugprediker op Musina. Gedurende my tyd in Musina is ek genooi vir ’n onderhoud by die Kapelaansdiens. Ek het nooit gedink dat dit my bediening sou word nie. Die kapelaan-generaal het self hierdie uitnodiging gerig en sou nie nee aanvaar nie. Hy het vir my vertel die Braambos-gemeente het my as ’n kapelaan genomineer. Ses maande later het my bediening in die kapelaansdiens begin.

Eerste dinge eerste met basiese opleiding en offisiersvorming gevolg deur ’n paar korter kapelaanskursusse (Kapelaan in die eenheid, Kapelaan in operasies, Kapelaan in vredesoperasies, ens).

’n Kapelaan se bediening sluit mense van verskillende gelowe in, Christen, Moslem, Hindu, Shembe, ens. Dit behels verskillende komponente.

Een daarvan is bediening deur teenwoordig te wees: dit is die grondslag van kapelaan wees. Waar die mense is, daar moet die kapelaan wees. Dit sluit in elke moontlike oomblik in die lewe van ’n soldaat – ontplooiing, fiksheid, lief en leed.

Woordbediening is ook ’n groot deel van kapelaan wees. Elke dag op parade, in vergaderings en natuurlik voor aktiwiteite en funksies word daar Bybel gelees en gebid. Daar is weeklikse kapelaansperiodes waar “moral regeneration”, lewensvaardighede en ander kwessies aangespreek word. Daar is ook kerkdienste wat gehou word op spesiale geleenthede. Natuurlik is daar roudienste en begrafnisdienste.

Pastorale berading is nog ’n groot deel van kapelaansbediening. Soldate en hulle gesinne kom besoek die kapelaan gereeld vir berading rondom ’n verskeidenheid van uitdagings. Huisbesoeke en hospitaalbesoeke word ook gedoen soos nodig. Daar is nie ’n spesiale sitkamer vir die dominee nie, met elke besoek is die werklikheid van almal se omstandighede duidelik sigbaar. Daar word van kapelane verwag om deeglik rekord te hou van alles wat gedoen word en wat gebeur. Hierdie rekords is baie belangrik wanneer dit by ontplooiings kom.

Die kapelaan se verhouding met die bevelvoerder is ook belangrik. Die kapelaan is ’n spesialisadviseur wanneer dit by mense kom. Elke oggend 06:30 is dit tyd om saam met die bevelvoerder te bid. Gedurende hierdie tyd word alle mensverwante sake bespreek, besluite word geklankbord, die bevelvoerder word van verwikkelinge in kennis gestel en daar word gebid. Hierdie vroegoggendvergadering is net tussen die bevelvoerder en kapelaan. Hierdie verhouding is baie belangrik en kosbaar.

Die kapelaansdiens het ’n verskeidenheid van nuwe programme soos “moral regeneration” en “spiritual resilience” wat in 2024 en 2025 uitgerol is. Hierdie programme word aan soldate aangebied om hulle by te staan tydens lang periodes van afwesigheid van die huis af. Ons benadering is dat ’n soldaat met sterk geestelike waardes en normes makliker staande bly wanneer die winde van die lewe waai. Ontplooiings en lang tye in die veld kom met unieke uitdagings. Selfs in die veld kry die kapelaan die geleentheid om programme aan te bied soos om kapelaansperiodes te hou, Bybel te lees, te bid en berading te doen. Dit is belangrik dat ons soldate geestelik sterk bly.

Elke kapelaan is gekoppel aan ’n gemeente waar hulle beperkte verantwoordelikhede het. Die gemeentes is baie geduldig, want kapelane is maar min by die huis. Ontplooiings na die Demokratiese Republiek van die Kongo, Soedan, Mosambiek, Marioneiland, Gougheiland en Antarktika is algemeen vir kapelane. Ons is ook gereeld vir maande lank deel van veldoefeninge in Lohatla.

Om in die kapelaansdiens te dien is ’n voorreg en plesier.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top