Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Lina Nthabiseng, Tsitsi Zoho en Phylis Magwati voor die stoof tydens ’n kookklas. Foto’s: Isabel Ballot

Hier leer huiswerkers meer as kook

Was, stryk, kook, huisskoonmaak. Is daar meer, behalwe hierdie noodsaaklikhede, wat ’n huiswerker moet weet? Kyk ’n mens na die NG gemeente Moreletapark se kursusprogram vir die opleiding van huiswerkers, is die antwoord beslis ja. ISABEL BALLOT vertel meer.


Moreletapark se kursus vir huiswerkers strek oor twee weke: Maandag 6 Februarie tot Vrydag 17 Februarie 2017, elke dag van 9:00 tot 16:00. Die volgende modules word aangebied: Kook­klasse (elke oggend) van 9:00 tot 12:00, was en stryk, werketiek, kommunikasie, konflikhantering, tele­foonetiket, hoe om ’n werksonderhoud te hanteer, alkoholmisbruik, MIV en vigs, gesinsgeweld, die omsien na verswakte bejaardes en die omsien na babas, al­gemene skoonmaak, en ouerskapvaardighede.

Dit word aangebied vir vroue van Woodlane Village, die plakkerbuurt langs die kerk.

Die program word georganiseer deur Retha Erasmus, koördineerder van gemeenskapsontwikkeling by Moreletapark. Maandagoggend 6 Februarie help Retha 10 geesdriftige vroue om te registreer. Hulle be­taal R50,00 om opgelei te word as ’n huiswerker. Woon hulle al die modules by, kry hulle R30,00 terug. Elkeen kry ’n plastieklêer met resepte, ’n notaboekie en ’n potlood. As hulle die kursus voltooi, is daar vir hulle ’n ser­tifikaat en onderhoude word vir hulle gereël.

Vanaf 12:00 tot 13:00 elke dag geniet die vroue die vrug van die oggend se arbeid. Dan is daar ’n kort Bybelstudie saam met pastoor Joshua Sawa van Moreletapark.

Woensdagmiddag se module gaan oor kommunikasie, konflikhantering, telefoonetiket en hoe om ’n werks­onderhoud te hanteer. Retha bied hierdie mo­dule aan. Sy verduidelik vier kommunikasiestyle aan die vroue: aggressief, passief, passief-aggressief, selfgel­dend.

Talent Nkomo, Sindi Shabangu en Dudu Dlamini luister aandagtig na Retha Erasmus se module oor kommunikasie.

Toe Retha verduidelik wat passief-aggressief be­te­ken, gaan daar ’n ligte roering deur die groepie. Hulle ken sulke mense. Daardie mense wat nie “oe” of “aa” voor jou sê nie, maar wag maar dat jy jou rug draai. Almal stem saam dat om selfgeldend te wees die beste styl is. Maar hoe nou gemaak as jy nie kan nie? Maklike antwoorde is daar nie.

Die realiteit is dat daar sulke geleenthede in ’n huis­werker se dag is waar sy voor dié kommunikasiestyle te staan kom. Soms word sy van dinge beskuldig waar­aan sy nie skuldig is nie.

“Dis jy wat die koppie gebreek het.”

“Jammer mevrou.” Al was dit nie jy nie.

Hoe vergewe ’n mens? Retha gesels met die vroue daar­oor dat God die Regter is. Dit is nie vir mense om te oordeel nie. Daar word instemmend ge­knik.

As ’n mens oor kommunikasie praat, bly kultuur nie agterweë nie. In sekere kulture word dit as slegte manie­re beskou om ’n persoon in die oë te kyk as jy met hom of haar praat. In ander word jy as onbeskof of selfs skelm be­skou as jy dit nie doen nie.

Retha moedig hulle aan om oogkontak te maak gedurende onderhou­de. Hulle moet versigtig luister na die vrae wat aan hulle gestel word en eerlik antwoord. Hul­le moet vrae vra as hulle nie verstaan nie of as hulle nog inligting wil hê.

Om te kook is seker een van die mees prettige mo­dules in hierdie kursus. Maar voor jy kan kook moet jy eers kan meet. En meet en kook is wat Hannetjie Joubert, een van die vrywilligers wat hier help, hulle leer. Maatkoppies, maatlepels en maatbekers word uitgehaal. Later word die vroue in drie groepies verdeel en elke groepie gaan leef hulleself uit voor ’n stoof. Hulle vind gou uit dat daar meer as een manier is om ’n hoender voor te berei! Hannetjie maak dit vir hulle op­windend.

Hierdie is ’n program waarin die vroue van Woodlane Village baie leer, maar die vraag is: Hoe pas ’n kur­sus vir huiswerkers by die missie van die kerk van Christus in? Kan Retha dit in ’n sinnetjie opsom?

Retha lag. Ja, sy kan. Maar nie in ’n sinnetjie nie. Sy verwys na die boek When helping hurts deur Steve Cor­bett en Brian Fikkert wat Moreletapark in hulle ge­meenskapsontwikkeling gebruik. Sy gebruik die ter­me “the Kingdom without the King”; “the King without the Kingdom”.

Dit help nie om daar in Woodlane Village te gaan evan­geliseer as sy nog nie ’n verhouding met hierdie vroue opgebou het nie. Nou help sy hulle, daar is in­ter­aksie en kommunikasie en dit gee haar die vrymoedigheid om by hulle in die Village te gaan kuier en saam met hulle Bybelstudie te doen.

Jesus het die koninkryk vir die mens se geestelike en fisiese behoeftes daargestel.

Op ’n besondere manier laat Moreletapark hier die koninkryk van die Koning kom.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top