Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Staan jy op die koppie buite die dorp, sien jy die NG Kerk Carnarvon se swart weerhaan en bruin gesteentes. Die gemeente val in die gelyknamige ring van Carnarvon en laasgenoemde is in 1980 gestig as die jongste van die NG Kerk in Noord-Kaapland se 11 ringe, wat altesaam sowat 81 gemeentes verteenwoordig, van Deben tot Kakamas, van Tadcaster tot Plooysburg. Kerkbode het gaan loer deur die klein sleutelgat van drie dae na hoe NG Kerk Carnarvon funksioneer. Ons gasheer was ds Marisa Vermeulen (links bo). Na ’n gemeentejaar by Mosselbaai Moedergemeente het Vermeulen, oorspronklik van Beaufort-Wes, hier in die Karoo kom vestig met haar man FA, ’n boer van die omgewing. Die twee het ’n babadogtertjie, Emari. Foto's: Le Roux Schoeman

Gemeentebesoek in die Bo-Karoo: Drie dae op Carnarvon

“Ek wil skape deurweeg en ontwurm. Jy kan help,” sê Daniël Vermeulen aan die dominee wat by hom opdaag vir huisbesoek. Tjoef-tjaf swaai ds Marisa Vermeulen die spuitkan op haar rug en werk een na die ander skaap soos hulle deurkom uit die kraal.

Carnarvon in die Bo-Karoo lê sowat tien ure se ry uit Pretoria of sewe ure uit die Kaap en is inderdaad die tuiste van skaap, stilte, die radioteleskope van die internasionale Sqaure Kilometer Array-projek (SKA), en dominees wat diere kan “dose”.

Daniël se vrou Marie sluit haar by ons aan. Sy vertel vir ’n nuuskierige besoeker uit die stad hoe die droogte hulle hier gelouter het. “Kyk, toe ons die boerdery oorvat, toe begin die droogte … 2017. Hy’t al 2016 begin, maar ons het gedink dis ’n seisoenale droogte, want ons kry seisoenale droogtes. Maar toe hou die droogte nou vrek lank aan. Dit het so ’n groot impak op die gemeenskap gehad. Nie net finansieel nie, maar emosioneel,” vertel Marie.

Daniël en Marie Vermeulen.

“Ons het in die kerk gesit dan is dit groot ooms wat sit en huil dat die banke ruk. Soos jy die wêreld nou hier sien, hier was niks,” sê sy en beduie na die grasperk teen die opstal. “Net grond en dooie takke. En hier by die agterdeur dan kom die skilpaaie en bokkies en goed en dan gooi ek nou maar vir hulle hondepille en als. Maar ek is baie dankbaar vir die droogte, want dit het gemaak wie ons is. Ons het geleer om beter te boer. Daar gaan definitief weer ’n droogte kom. Maar jy moet voorsiening maak,” vertel Marie. Haar man voeg by hoe die droogte sy geloof beïnvloed het: “Jy moet gevorm word, jy moet gevorm word. Dit kan nie net met ’n mens goed gaan nie. Hoe boring sou die lewe wees? Jy moet getoets word. Jy moet besef daar is uitkoms. Die Here vergeet jou nie,” aldus Daniël.

Ds Marisa (met wit keps) besoek die Vermeulens op hul plaas.

In 1990 berig Kerkbode oor Carnarvon dat die distrik ongeveer 1 miljoen hektaar beslaan en die verslaggewer vertel stories van mense soos tannie Hannie Vermeulen (destyds 83 jaar) wat “as boer haar hande skurf gewerk het, onder andere aan die 123 dwarswalletjies op hulle plaaspad aan die hang van die Karee-berg.”

Uit die Kerkbode-argief: 29 Junie, 1990

’n Mens lees in daardie uitgawe ook van ’n ywerige 90-jarige wat ’n Bybelstudie oor Openbaring lei. En jy kan herkou aan die statistiek dat, van die 22 volwassenes wat die vorige jaar begrawe is, die gemiddelde ouderdom 78 jaar was. ’n Aanduiding van die uitwerking van “vars lug en harde werk”, waag die Kerkbode-skrywer dit. Wat sal ’n mens met ’n besoek aan Carnarvon in 2026 aantref?

Kerkbode se afgevaardigde loer deur die klein sleutelgat van drie dae na hoe hierdie gemeente deesdae funksioneer. Ons gasheer is einste ds Marisa Vermeulen. Na ’n gemeentejaar by Mosselbaai Moedergemeente het Vermeulen, oorspronklik van Beaufort-Wes, hier in die Karoo kom vestig met haar man FA, ’n boer van die omgewing. Die twee het ’n babadogtertjie, Emari. “Iets wat die Here heeltyd vir ons gemeente uitwys is kinders,” sê die lewenslustige dominee, wat in Junie 27 sal word. “Nie net ons gemeente se kinders nie maar die gemeenskap se kinders. Ons sien dit as deel van ’n groter prentjie en ’n verantwoordelikheid wat ons het om die Here se lig verder te laat skyn as NG Carnarvon.”

Ds Marisa Vermeulen.

Na ’n gemeentejaar by Mosselbaai Moedergemeente het Vermeulen, oorspronklik van Beaufort-Wes, hier in die Karoo kom vestig met haar man FA, ’n boer van die omgewing. Die twee het ’n babadogtertjie, Emari.

Vermeulen het vars idees vir haar bediening. In 2023 het haar gesig nog in Kerkbode se proponentebylaag gepryk, nou staan sy Sondag op die kansel en preek met selfvertroue: “Ons gaan al hoe meer, soos die Here vir ons mense stuur, geleenthede skep, om getuienisse te deel.”

Voor die Sondag-erediens het daar ’n ontspanne atmosfeer agter in die konsistorie geheers. Die gebruiklike ry foto’s van ds Marisa se voorgangers het bo haar kop gehang. Ouderlinge en diakens het hande gevat en ’n kringetjie gemaak. Vermeulen het iemand gevra om te bid voor sy die kansel bestyg.

Gys van Wyk en Margareth Steenkamp

Na die diens ry ek saam met die Vermeulens in hulle bakkie, die babastoeltjie op die agtersitplek. Dit is tyd vir ’n wyksbraai. ’n Gesprek op ’n koeltegevulde grasperk volg met Gys van Wyk en Margareth Steenkamp oor die Amos-bediening, ’n gevestigde kerkinisiatief wat as plaaswerker-bediening ontstaan het en ook hier in die Karoo wortels geskiet het. “Dis suurdeeg op ’n plaas. As die een (man) rustig raak, raak ander ook rustig,” vertel Van Wyk wat al 27 jaar met toewyding en vaste ritmes die aanvoorwerk doen. “Ek sê nie Amos is alles nie. Maar as jy kyk, 30 jaar terug, wat aangegaan het op die plase … Dis ’n helse verskil,” sê Van Wyk.

By Steenkamp hoor ’n mens die diep geworteldheid in die veelgenerasie wêreldbeskouing van baas-en-werker, maar sy beskryf tog iets van ’n skuif in haar eie bewussyn. Sy vertel hoe sy onlangs huil oor ’n lam wat sy nie kon red nie en ’n werker wat haar troostend daarop wys dat die voer wat die span uitgery het wel 50 lammers gered het. Haar insig daaruit: “So, hulle ondersteun jou van hulle kant af. Ons is ingehaak.”

Dit is nog als Sondag. Soos ons terugry dorp toe is daar tekens van reën in die lug. In die skemerdorp lees die winkelname hulle plattelandse liturgie aan ’n mens in die verbygang voor. PEP, Ahmed, Usave.

Carnarvon is ’n dorp met skoonheid en ’n skadukant. Hoop en ellende.

Oor ’n onlangse naweek druis drinkplekke in die middedorp so dat ’n mens kwalik kan glo jy is op die dorp wat die SKA-wetenskaplikes juis vir sy lae vlakke van stedelig en klankbesoedeling uitgekies het. Carnarvon wil gelewe word. Hy wil gelewe wees,” vertel ’n man wie se pad met alkohol hom na ’n rehabilitasiesentrum elders in die Noord-Kaap geneem het maar weer terug op die toneel is. Hy praat met ’n onpeilbare soort lawwe erns en droewige ontsag vir een van die dorp se groot probleme, drankmisbruik en -verslawing. “Of jy’s reg vir Carnarvon, of jy’s weg vir Carnarvon. As hy jou ingesluk het … dis nag. Dis moeilik om daar uit te kom. As jy vir Carnarvon sleg gewoond geraak het en Carnarvon vir jou gewoond geraak het … dis nag. Hier is mense op die dorp wat gekom het om te kuier vir die naweek en hulle is nou nog hier … 13, 20 jaar.”

Vroeg Maandag is die bakkie met die babastoeltjie voor ons deur. Ds Marisa doen skoolrondes met Timnah-june Volner, beter bekend as Juffrou Timmy, die eienaar van Juffrou Timmy se Speelgroepie. Dit is ’n besigheid met wie die gemeente handevat om skoolgereedheid te verbeter. Juffrou Timmy kan tot 50 voorskoolse kinders inneem.

Juffrou Timmy (links) laai ‘haar’ kinders op, gee twee maaltye en laai hulle weer af.

Die meeste van “haar” kinders woon in die woonbuurt Bonteheuwel, waarna Juffrou Timmy as die lokasie verwys. Een van die mededingengde voordele wat Juffrou Timmy se besigheid het, is Juffrou Timmy gaan háál kinders tuis en laai hulle weer af. Agter die stuur van ’n Nissanbakkie met wit wieldoppe is Alfred Williams, ook bekend as Bielie, die lankmoedige bestuurder. “Jy gaan sien daar’s ouers wat by die huis is en nie by die huis is nie,” verduidelik Juffrou Timmy aan besoeker. Sy vra die ouers R250 per maand (dit sluit twee maaltye en die kind se vervoer in) en het haar ouerhuis langs die treinspoor aan die ander kant van die dorp ingerig om plek te maak vir twee klaskamers. Op hierdie oggend klim altesaam 30 kleuters agter in die bakkie wat van huis na huis na huis kruie terwyl werkendes na plase en werkplekke in die omgewing pendel en ander kinders op die sypaadjies agterbly. Juffrou Timmy was nie altyd Juffrou Timmy nie. Sy wou in Toerisme werk, het vir ’n ruk in die Boland gaan studeer, maar in 2019 swanger geword en teruggekeer na Carnarvon. “Een aand toe sê ek vir my ma, ek gaan môre my eie skooltjie begin.”

Alfred Williams.

Sy en “oom Bielie” het begin met net ses kinders en mettertyd het sy haar akkreditasie en die formalisering van die inisiatief onder die knie gekry, met hulp van die netwerke wat sy via die ACVV gebou het. Haar eie kleintyd? “Ek was baie skaam en teruggetrokke. Ons het baie swaar grootgeword. So daar was nooit trippies en goed nie. Ons het nie die voorreg gehad (van vra), “My ma, ek wil dit hê, of, my ma, ek wil dat hê nie. Ons het mos klaar geweet ons gaan dit nie kry nie. Maar nou, omdat ek nou ’n kind het, sit ek my alles in.”

Amelia Mersner is Juffrou Timmy se mede-juffrou by die skooltjie.

Vandag is Juffrou Timmy gefokus op hierdie projek wat goed belyn met ’n NG gemeente wat via ’n jong-moeder-leraar konkreet en struktureel in kinders se lewe ’n verskil wil maak. Juffrou Timmy se insig? “Die groot ding is geduld … Patience,” verduidelik sy en, dalk verrassend, voeg sy by dat dit nie na die jongspan verwys nie, maar die ouers wat nie betyds betaal nie. “Jy moet net geduldig wees. En jy moet ’n passie hê vir kinders en liefde hê vir ander mense se kinders. As hulle in die bakkie klim, dis nou my kind.”

 

“Ek wil graag vir ons kerk ’n moederskamer bou,” sê Enja Steenkamp.

Sterk moeders is natuurlik volop, maar binne die mamma-sfeer van NG Kerk Carnarvon kry die visie van vrouens ’n restitusiegehalte. Geboue verander, nie net “dinge” nie. “Ek wil graag vir ons kerk ’n moederskamer bou,” sê Enja Steenkamp, wat die projek bestuur en projekgebaseerde fondswerwing van stapel gestuur het. Baba op die heup verduidelik sy aan Kerkbode hoe die dinge gaan verander binne Carnarvon se kerkgebou: “Ons gaan hier sit … en die dominee sien, en dominee ons sien,” verduidelik sy oor die plan vir die plaasvervanger van die bestaande kinderkamer wat agter die kansel ingerig was en te beknop en ontoereikend was vir die raakvatters wat ook die kategeseklasse met behulp van ruim verbeelding en Temu.com opgetooi het. “Ons is sowat 20 jong couples met elkeen twee, drie kinders,” verduidelik Steenkamp. Sy voeg by dat die plaaslike skrynwerker reeds ge-brief is vir die werk wat voorlê.

 

 

Staan jy op die koppie buite die dorp, sien jy die NG Kerk Carnarvon se swart weerhaan en bruin gesteentes. Die gemeente val in die gelyknamige ring van Carnarvon en laasgenoemde is in 1980 gestig as die jongste van die NG Kerk in Noord-Kaapland se 11 ringe, wat altesaam sowat 81 gemeentes verteenwoordig, van Deben tot Kakamas, van Tadcaster tot Plooysburg. Amptelike gemeentegeskiedskrywing is gewoonlik deeglik, formeel en perspektiefbeperk. So iets: Die Rynse Genootskap het in 1857 ’n sendingstasie op die plaas Schietfontein in die Bo-Karoo opgerig vanwaar eerw Alheit, ’n sendeling, die plaaslike bevolking kon bearbei. Op daardie plaas het Carnarvon ontstaan.

Kaart van ringe in Noord-Kaapland. Bron: noordkaap.ngkerk.net

Maar in 2024 is kerklike geskiedskrywing verryk deur ’n ongewone verwikkeling op Carnarvon. ’n Faktotum het na 40 jaar se diens ’n gemeentegeskiedenis opgeteken. Hendrik Papier het vanuit sy perspektief as koster die opeenvolgende dominees se termyne asook gebeure, van natuurramp tot alledaagse instandhouding, geboekstaaf.

Dit het Papier so drie maande geneem om alles bymekaar te kry en die vertellings en staaltjies aan ’n medewerker te dikteer. Dit heet: NG Kerk Carnarvon: Vertelling deur Hendrik Papier en is as voublaadjie deur die gemeente gepubliseer. Sy vertellersblik is prakties ingestel en tyd blits verby deur die lens van pligte, persoonlikhede en werksverhoudings. ’n Voorbeeld is die kerkraad se besluit, in 1988, dat die orrel ’n volledige diens moet kry. Deur ’n Engelsman van Johannesburg. “Ek praat nou uit die mond van die orrelbouer,” onthou Papier. “Die totale hoeveelheid pype is 1 500. (Die orrelbouer) het dit afgebreek en ons het hom gehelp om dit in ’n stoorkamer te gaan stoor. En dit het hom ses weke gevat om die orrel weer behoorlik aanmekaar te sit.”

Hendrik Papier met ‘n foto van Carnarvon se Ringsitting in 1980.

Daar is iets tegelyk intiem en afgetrokke omtrent die inhoud. Dit is kronieke van ’n bruin man wat as tiener vir wit dominees en lidmate in ’n wit Karookerk begin werk het deur die banke blink te vryf en die klok betyds te lui en die deure oop en toe te sluit. Ons leer oor dominee Siebie se vernuf met potjiekos, dat dominee Van Zyl lief was vir middagslapies op sy bedjie in die studeerkamer, dominee Marius wat sy r’e brei as hy vir meneer Kruger groet, dominee Erik se kat met die naam Boud (“Daar was soos ek kon sien ’n baie spesiale band tussen Dominee en Boud”) … Die leser word, nes Papier self, ook ooggetuie van die ononderbroke skuif na vroueleraars wat in 2014 aanbreek: Van der Merwe, Badenhorst tot nou ds Vermeulen. Maar wat die leser opval in hierdie teks, is die dominees se vreugdes is Papier se vreugdes … Hulle kommer is sy kommer.

Hoe lees ’n mens so ’n teks? As sogenaamde “geskiedenis van benede”? Of as bewys van die uiteindelike seëvierende agentskap van ’n skrywer ondanks ’n narratief wat getuig van kulturele assimilasie? Die vraag na wat Papier self ten diepste motiveer het en toegelaat het om vir vier dekades in ’n NG sisteem te werk, dáárvoor moet ’n mens in ’n ontmoeting met die man self gaan soek. In ’n voorkamer in ’n woonbuurt aan die rand van die dorp en in die gemeenskap waar Papier self ’n prediker by ’n Pinksterkerk is, daar vertel hy sy eie storie. Dit is sy nederigheid en trots wat ’n mens opval en bybly wanneer jy hom en sy vrou Magrieta in hulle leefruimte ontmoet. Wat dink hy as hy deesdae die kerkorrel hoor, vra ek toe hy my by sy voormalige werkplek gaan rondwys? As hy ’n spesifieke gesang hoor, dink hy aan dié of dáái orrelis, wat van daardie gesang gehou het, vertel Papier. “Daar gaan baie deur my kop.”

Tuis by sy vrou Magrieta.
Hendrik Papier in die NG Kerk Carnarvon.

Op ’n plaas buite die dorp tref ’n mens laatmiddag vir Mia Louw in ’n blomtonnel vol dahlias en ander veldskoonhede aan. Hierdie jong lidmaat begin haar storie met blomme as volg: “My verhouding met die Here was nie baie goed nie.” Toe gee haar ma raad. Sy sê gaan werk in die tuin om jou kop skoon te kry. Deesdae vertel Louw: “Net om iets te plant en te sien hoe dit groei en die mooigeit wat dit bring, herinner jou aan wat God eintlik doen.” Elke week vat Louw, wat as onderwyser werk, blomme vir die dokter se spreekkamer op die dorp en die ouetehuis. “Daar is vir my niks lekkerder as om ’n bos blomme vir iemand te gee en te sien hoe gelukkig dit hulle maak nie, want ek weet hoe happy dit my maak.”

Mia Louw

Op ’n plaaspad teen die einde van Kerkbode se besoek aan die Karoo vra ek vir Vermeulen uit oor plaasbesoeke, die afstande, die eise van die taak self. “Die moeilikste maar ook die groostste voorreg is om mense se harte te sien,” sê sy. “As jy deel in mense se grootste vreugde deel jy ook in hulle grootste seer. In hulle grootste hoop vir reën maar ook hulle teleurstelling dat dit daar gereën het maar nog nie hier gereën het nie. Jy voel alles saam met hierdie mense, want jy is lief vir hulle. As hulle swaarkry, kry jy ook swaar. Ons is een liggaam.”

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top