Ds Danie Oosthuizen, afgetrede leraar, is op 6 April in ’n buitekamer by sy huis aan die Oos-Rand dood aangetref. ’n Moordsaak word ondersoek.
Hy sou op 30 April 75 word.
Nou, in plaas van ‘n verjaardag, is dit ’n gedenkdiens wat vir hom beplan word op 17 April om 11:30 by die NG Gemeente Boksburg-Wes. Hy was na sy aftrede in 2022 vir drie jaar hier as ouderling betrokke en het by geleentheid gepreek. Dr Oswald Nel, vriend van Oosthuizen, het by navraag vertel hoe die nuus hom geskok het. “Ons moet almal doodgaan, maar dit is die manier. Dít is wat ’n mens hartseer maak,” het hy gesê.
Nel vertel Oosthuizen was iemand wat wyd betrokke was. Hy het op vele kerklike kommissies gedien en het ook op sy dag provinsiale rugby gespeel en was skeidsregter. “Almal het geweet wie is Daan Oosthuizen … hy is ’n groot boom wat brutaal verwyder is,” het hy bygevoeg.
“Ds. Oosthuizen se wysheid, integriteit en diensbaarheid het ’n blywende indruk gelaat. Sy liefde vir die kerk en groter kerk en sy toewyding aan die werk van die sinode word met groot dankbaarheid onthou,” luidens ’n verklaring deur Sinode Hoëveld (sien onder).
“(Ons) is opreg dankbaar vir sy getroue diens en die betekenisvolle rol wat hy oor jare heen gespeel het. Die Sinode Hoëveld betuig sy innige simpatie en medelye aan sy familie, geliefdes, vriende en die gemeentes wat deur sy bediening geraak is. Ons bid dat die Here troos en vrede sal skenk in hierdie tyd van verlies.”
Die nuus van Oosthuizen se dood het ook skokgolwe gestuur deur die Oos-Randse gemeente waar hy vir 30 jaar die gemeentepredikant was.
“Dit is bitter moeilik om in woorde te sit wat ds Danie vir ons beteken het, dit is soveel meer …” So skryf Mariet Dembskei, leierouderling van die NG Gemeente Primrose-Oos, per e-pos.
In ’n huldeblyk deur dié gemeente word genoem hy was vir hulle gemeente “meer as net die leraar”. Buiten waardering vir sy vaardighede agter die kansel word ook genoem dat hy produksies, boeke, Bybelstudies en dagstukkies help skryf het. Hy het ook gehelp met uitreike.
“Hy was vir ons ’n voorbeeld. Sy onbaatsugtige opofferings, sy liefde en omgee, die deel van sy kennis en vaardighede, sal ons vir altyd onthou,” lui die skrywe.
“Hy word oorleef deur sy vrou, kinders, kleinkinders en familie en almal wat vir hom lief was.”
- Berig aangepas na publikasie vir helderheid. Dr Oswald Nel is ’n ouderling by die NG Gemeente Boksburg-Wes, nie predikant soos oorspronklik berig is nie.
Kort Verklaring: Ds. DS (Danie) OOSTHUIZEN
Met leedwese het die Sinode Hoëveld kennis geneem van die tragiese afsterwe van ds. Danie Oosthuizen. Ds. Oosthuizen het oor baie jare met toewyding diens gelewer binne die Ring van Germiston en die Sinode Hoëveld en was onder meer betrokke by die Sinodale Kommissie vir Finansies (SKF) asook die Sinodale Dienskommissie (SDK) as Portefeuljeleier: Sinodale Hulpbronnebestuur. Binne die portefeulje het hy ’n waardevolle bydrae gelewer tot die werk en bediening van die kerk. Verder het hy op die Beheerliggaam en later as lid van die Direksie van Achterbergh en Sinode Hoëveld Eiendomme gedien, waar sy insig en betrokkenheid hoog geag is.
Ds. Oosthuizen se wysheid, integriteit en diensbaarheid het ’n blywende indruk gelaat. Sy liefde vir die kerk en groter kerk en sy toewyding aan die werk van die sinode word met groot dankbaarheid onthou. Die Sinode Hoëveld is opreg dankbaar vir sy getroue diens en die betekenisvolle rol wat hy oor jare heen gespeel het.
Die Sinode Hoëveld betuig sy innige simpatie en medelye aan sy familie, geliefdes, vriende en die gemeentes wat deur sy bediening geraak is. Ons bid dat die Here troos en vrede sal skenk in hierdie tyd van verlies.
- Ds Hannes Windell namens Sinode Hoëveld
