Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Cecile Murray-Louw (heelvoor) skryf oor die aand toe 'hoe die evangelie tasbaar geword het rondom blou-en-wit blokkiestafeldoeke, stomende sopbekers en sagte geselsies met mense wat vir mekaar plek en ruimte maak'. Foto: Verskaf

Pinksterete in Table View | ‘Miskien is dit hoe Handelinge 2 gevoel het’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Cecile Murray-Louw van Durbanville skryf: Ons het daardie Donderdagaand in my minibus ingebondel en Table View toe gery – die jongste 17, die oudste 86. Dit was die einde van Pinksterweek by Durbanville-gemeente saam met ds Jaco Strydom, wat ons al dae lank herinner het aan Jesus se uitnodiging om stadig en lig te leef, om te luister, nader te beweeg, raak te sien.

Maar ’n mens kan maklik oor gemeenskapwees praat sonder om dit werklik te beleef. Ons wou meer doen as net hoor, ons wou voel. Ons wou brood breek. Ds Scherlize van der Merwe verseker my ons hoef niks te bring nie, maar ek sê vir my gemeentelede “kom ons neem koeldrank en deelbrode.” Dit voel te vreemd om op ’n “uitreik” te gaan en op te daag sonder om iets by te dra.

Die Isibindi Echo-huis in Table View funksioneer vanuit die NG Kerk se kerksaal. Die ou Sondagskoolklasse om die rand van die saal is omskep in slaapkamers. In die oop ruimte in die middel staan ’n tafeltennistafel en rusbanke wat lyk asof baie stories al daarop gedeel is.

Met die intrapslag voel dit nie soos ’n projek nie: ’n Jong meisie speel op die klavier teen die muur, en ’n groep seuns is luidrugtig besig by die pooltafel op die verhoog. Dit voel soos mense wat ’n huisruimte skep en plek maak vir mekaar. Soos warm hoekies van “belonging” wat voor ons oë wortel skiet.

Jongmense beweeg gemaklik tussen mekaar deur terwyl die reuk van warm sop en brood in die lug hang. Party lag en skerts, ander bly stiller op die agtergrond of help tafels dek. ’n Matriekinwoner fluister in my oor: “Daar is poeding ook”. En skielik voel dit vreemd, nee selfs ongemaklik, dat ons gedink het óns is die mense wat iets kom bring.

Ons luister na ’n kort boodskap van ds Jaco Strydom, en ds Neil Steyn en van die jongmense begelei ons in lof en aanbidding. Dan is dit etenstyd. My tienerdogter “bond” moeiteloos met die drie jong inwoners aan ons tafel. Ek verloor relatief vinnig die draad van hulle pop culture verwysings, memes en TikTok-grappies, en kom agter hulle het my glad nie nodig om gemaklik te wees met mekaar nie.

Die naam Isibindi beteken: “Wees dapper.” Dit verg sekerlik baie dapperheid vir ’n onseker jongmens om saam met wildvreemdelinge aan tafel te sit. Nog meer om jou storie te deel. Om weer deel van iets soos “community” of huis te word nadat die lewe jou dalk vroeg al geleer het hoe broos veiligheid kan wees. Of hoe maklik dit, wat jou moes beskerm, jou teleurstel. Om jou hart oop te maak vir ’n Vader wat jou op die regte manier liefhet.

Ronel van Tonder het lank met Monique gesels – ’n jong meisie van die Kongo met groot drome vir haar toekoms. “Haar grootste vrees is om mense te vertrou,” het Ronel later gesê. “Daai vriendelike gesiggies om ons tafel het my diep geraak.”

Elske Badenhorst het ná die aand geskryf dat die besoek vir haar die Pinksterverhaal in Handelinge op ’n nuwe manier oopgemaak het. Mense van verskillende ouderdomme, agtergronde en verhale saam om tafels. Geloof het minder soos ’n idee en meer soos ’n gedeelde lewe begin voel toe ons saam lag en mekaar se name begin onthou.

Ds Marno Plaisier het later gesê: “Om saam met iemand anders ’n maaltyd te deel, bly iets diep persoonlik”.

Miskien is dit wat my die meeste sal bybly van die aand – nie groot toesprake, slim preke of indrukwekkende planne nie, maar hoe maklik vreemdelinge vriende word wanneer jy saam eet.

Op pad terug huis toe was die bussie stiller as vroeër die aand. Elkeen van ons het nog gedink aan hoe die evangelie tasbaar geword het rondom blou-en-wit blokkiestafeldoeke, stomende sopbekers en sagte geselsies met mense wat vir mekaar plek en ruimte maak.

En nou weet ons ook: dit is hoe Handelinge 2 gevoel het.

Ondersteun die inisiatief hier: https://isibindi.org.za/support-us

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top