“Dis amper soos die Here manna uit die hemel gestuur het …”
Só het Katherina Johnson, beter bekend as Suster Doekies, verlede Desember gereageer toe Bybel-Media byna 1 000 boeke by haar sopkombuis se Kersete kom uitdeel het.
Sy en haar man, Abraham, kook al vir meer as 20 jaar elke dag warm etes vir behoeftige mense in hulle gemeenskap Fisantekraal naby Kaapstad. Elke jaar help donateurs dat hulle ’n lekker Kersete ook kan voorsit. Dit is by hierdie geleentheid laasjaar dat Bybel-Media se span kom handevat het om as deel van hulle jaarlikse KinderKersKousprojek aktiwiteitsboeke, Bybelstudies en Bybels te kom uitdeel.
Die nasionale biblioteekdiens doen in vennootskap met die Nal’ibali Trust elke paar jaar ’n opname van leesgedrag in Suid-Afrika. Die bevindinge van die jongste een is in 2023 gepubliseer in die National Reading Barometer. Dit het gewys dat slegs 35% van huishoudings met kinders ’n kinderboek besit. Vir baie kinders is ’n eie Bybelstorieboek dus nie vanselfsprekend nie. Deur die KinderKersKousprojek help Bybel-Media om stories van hoop en geloof in meer kinders se hande te plaas.
Dr Nico Simpson, Bybel-Media se uitvoerende hoof, verduidelik meer: “Ons gee hierdie boeke omdat ons glo dat hulpmiddels vir geloofsvorming ’n lewe lank vrug dra, veral wanneer dit vroeg geplant word. Dit is vir ons belangrik dat elke kind toegang het tot stories van hoop, selfs waar hulpbronne skaars is,” het hy bygevoeg.
Danksy hierdie projek kon kinders in onder meer Lesotho, die Oos-Kaap, Ceres en Colesberg ’n eie boek vashou en self daarin lees.
Bybel-Media versprei verskeie leeshulpmiddels wat aktiwiteitsboeke, Bybelstorieboeke, Bybelstudies en Bybels insluit. Hierdie jaar is Bybelboekies, genaamd Mini-Bybels, in Afrikaans, Engels, Zoeloe en Sesotho gedruk en uitgedeel. Die boekies bevat stories oor Jesus geneem uit die Evangelie van Lukas.
‘n Bybelstorieboek kan ‘n kind se eerste kennismaking met Bybelverhale wees. Met die KinderKersKousprojek kan jy en jou gemeente help om dié stories ook by kinders uit te bring wat andersins dalk nie toegang tot sulke boeke sou hê nie.
Só kan jy help:
- Skenk ’n BybelBouBlok van R200. Elke donasie maak dit vir Bybel-Media moontlik om meer mini-Bybelboekies uit te deel. Elke R1000 betaal vir die druk en versprei van ’n volledige Kinderbybel. Kliek HIER om meer uit te vind.
- Maak ’n direkte inbetaling:
Bankbesonderhede: Bybel-Media, ABSA Bank
Rekeningnommer: 405 118 1699, Takkode: 632005
Gebruik jou donateurnommer en e-pos adres as verwysing
- Bybel-Media publiseer Kerkbode en die LiG-tydskrif.
