Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Waarde-volle boek oor 7 waardes

DIE WONDER VAN DIE GODDELIKE LIEFDE
Deur Chris van der Merwe
Uitgegee deur Lux Verbi, 2014
Resensie deur Annalise Wiid


Verbeel jou ’n baie mooi blom wat deur ’n sterk wind uitmekaar gewaai is sodat die blare oraloor gestrooi lê. En iemand kom tel die blare een vir een op en bring die wonder weer tot ’n geheel bymekaar. Só het ek Chris van der Merwe se skryf van Die wonder van die Goddelike liefde ervaar.

Die boek handel oor sewe Bybelse waardes wat betekenis aan ons lewe gee: geloof, hoop, geregtigheid, waarheid, blydskap, nederigheid en liefde. Dit is waardes wat deur ’n tydsgees van vervlakking en verval vir baie mense uitmekaar gewaai is. Chris tel hulle een vir een op, herdink en herformuleer elke waarde se sinvolheid vir ons tyd, en bring die afsonderlike elemente só bymekaar dat dit weer ’n kosbare geheel vorm.

Hoewel die skrywer in sy voorwoord noem dat hy opgelei is “as letterkundige, nie as teoloog nie”, is dit duidelik: sy opleiding en ondervinding laat hom diep en krities dink. Elke hoofstuk fokus op ’n ander waarde. Maar niks word in gemaklike klein boksies verpak nie. Niks is simplisties nie. Hy dink en skryf ruim en veelkantig en betrek ook die donker kant. Die fyn en verwikkelde web van die onderskeie waardes se verband met mekaar word voortdurend verreken.

Met goeie hermeneutiek, keurige taal, treffende aanhalings en goeie logika, wys Chris hoe die wonder van die goddelike liefde in elke deug vergestalt word, met die liefde as middelpunt van die Bybelse etiek. Hy verken Christus se rol in die wêreld – ver­al ook in ons land se konteks van onreg, pyn en die groterwordende ryk-arm-kloof. En hy doen dit weldeurdag, nederig, wys, en met ’n duidelike diep verbondenheid aan Christus.

Chris van der Merwe se boek is inderdaad op meer as een manier waarde-vol!

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top