Hoe lyk die jong volwassenes van Suid-Afrika?
Dit is met hierdie vraag in gedagte wat die Jong Volwassene Leergemeenskap (JVLG) ’n Skype-onderhoud met Adriaan Adams gevoer het tydens hul ontmoeting op 6-8 Februarie.
Dit is die tweede ontmoeting van hierdie groep as deel van hul proses om ’n strategie ten opsigte van jong volwassenes vir die Wes-Kaapse sinode te ontwikkel.
By hierdie geleentheid is daar verder gekyk na bestaande navorsing oor millennials (jong volwassenes van ouderdom 18-30) en die kerk. Ongelukkig is die meeste hiervan buitelandse navorsing.
Op soek na meer Suid-Afrikaanse navorsing en insigte, is daar met Adams gesels. Adams is die uitvoerende direkteur van GenerationIndex.com, en werk die laaste 20 jaar baie nou saam met jongmense in verskeie spektrums wêreldwyd.
Hy waarsku dat daar nie te vinnig veralgemeen moet word wanneer dit by millennials kom nie. Millennials se gedragspatrone is gewortel in ’n bepaalde wêreldbeskouing wat deur ’n spesifieke konteks gevorm word.
Terwyl globalisasie en tegnologie wel tot gevolg het dat daar vele ooreenkomste tussen millennials oor die wêreld heen is, is die invloed van diverse kontekste egter te groot om te veralgemeen.
Daarom sou dit foutief wees om te aanvaar dat die jong volwassenes van die VSA dieselfde as dié in Suid-Afrika is.
Maar hierdie verskille lê nie net op internasionale vlak nie. Die verskille tussen die jong volwassene in Pretoria en dié in Kaapstad kan net so diepgaande wees, maan Adams. Daarom kan daar gerus van navorsing in ander kontekste kennis geneem word, maar dit kan nie direk in ander kontekste toegepas word nie.
So hoe kan gemeentes die millennials in hul gemeenskap leer ken? Adams identifiseer vier areas wat millennials se wêreldbeskouing en gedragspatrone vorm.
Die eerste is die beskikbaarheid en gebruik van tegnologie onder jong volwassenes. Toeganklikheid tot die internet speel byvoorbeeld ’n groot rol in toegang tot inligting en populêre kultuur.
Die tweede faktor wat millennials vorm, is hul familie, vriende en sosiale interaksie. Die aard en funksie van verhoudings in die jong volwassenes se lewe is van belang. Hier kan daar onder andere gekyk word na die impak van die afname in die tradisionele kerngesinstruktuur.
Onderrig is die derde faktor wat millennials vorm. Die toeganklikheid en formaat van onderrig gee heelwat leidrade oor jong volwassenes se wêreldbeskouing.
Laastens, moet daar gekyk word na die groot gebeurtenisse wat millennials kon help vorm. Ekonomiese resessie en politieke onstabiliteit word as moontlike redes gegee waarom millennials ’n groter behoefte aan opregtheid het.
Die JVLG meen verder dat vrae na jong volwassenes se kerkagtergrond sowel as hul huidige geloofspraktyke en -ervaringe moontlik ook gemeentes kan help om die jong volwassenes en hul verhouding met die kerk te verstaan.
Indien gemeentes en gemeenskappe hierdie faktore binne hul kontekste kan ondersoek, sal hulle nuwe insigte kan kry in die wêreldbeskouing en gedragspatrone van die jong volwassenes onder en tussen hulle.
Die JVLG sien uit daarna om meer plaaslike navorsing oor jong volwassenes te doen. Maar intussen wil ons gemeentes nooi om hulleself te vra: Ken ons ons jong volwassenes?
– Lees ook die rubriek “Jong Stemme” op bladsy 7.
