“Seisoen saam met God”. Dit is die tema van die negende jaarlikse kunsuitstalling wat die NG gemeente Rietfontein-Noord in Pretoria tydens Pinkster aanbied.
Ds Francois Naudé van die gemeente sê dat hulle professionele kunstenaars en amateurs nooi om deel te neem. Die inskrywingsgeld is R300 per kunstenaar en daar is geen beperking op die aantal werke wat hulle kan uitstal nie. Enige medium kan in die kunswerke gebruik word.
Kunstenaars kan ook hulle werke te koop aanbied met die verstandhouding dat 15% van die verkoopprys as kommissie na die gemeente toe gaan.
Die tema maak ’n wye aantal moontlikhede oop. Naudé sê kunstenaars kan dink aan seisoene in die natuur, die seisoene van die kerkjaar (soos Advent, Lydenstyd, Paasfees, Pinkster en Koninkrykstyd), die seisoene van die lewe, of die seisoene in ons wandel met God.
Die uitstalling word op 6 Mei geopen en duur dan van 7 tot 15 Mei.
Belangstellendes moet Naudé twee weke voor die uitstalling begin, laat weet dat hulle wil deelneem. Sy kontakbesonderhede is francois@ngkrn.co.za of 084 860 8000 of 012 331 8449.
