Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
“We pray that your presence with us will make us uncomfortable until we start to make changes.” So het ds Rose Abbey gebid tydens die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke se Bi-regionale Konsultasie. Verteenwoordigers van gereformeerde kerke uit Afrika en Noordoos-Asië het in November 2015 in Ghana ontmoet om saam te onderskei wat die Here vir ons sê rondom gender.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/02/Rethie-van-Niekerk.jpg” caption=”Ds Rethie van Niekerk is predikant van die NG ge-meente Somerstrand in Port Elizabeth en lid van die Oos-Kaapse moderatuur.” align=”right” width=”270px”]
As deel van hierdie byeenkoms, het ons die Elmina-kasteel besoek. Hierdie kasteel, die oudste Europese gebou suid van die Sahara, was die sentrum van die Atlantiese slawehandel. In 1637 het die Nederlanders die kasteel oorgevat en die kapel geskuif, maar niks verander aan die funksie van die kasteel nie.
Daar het ek in Ghana gestaan, in die Elmin-kasteel se vroueslawekerker, met die reuk van menslike swaarkry wat honderde jare later nog aan die klippe kleef. Voor die kelder is ’n kanonkoeël. Vroue wat hulle verset het teen verkragting, is hieraan vasgeketting en gelos om dood te gaan van honger en blootstelling. In die versengende hitte kan ’n mens ook verstaan hoekom soveel vroue, in die kelder gepak soos sardientjies, versmoor het.
Bo die kelder, met pragtig versierde vensters wat oor hierdie einste binnehof uitkyk, is die kapel van die destydse Dutch Reformed Church (nie dieselfde as vandag se NG Kerk nie, maar wel histories verwant). Week na week het Christene hier die Here aanbid, voor die aangesig van hul eie dade van marteling. ’n Mens kan nie dink hoe so iets moontlik is nie. Hulle moes tog die krete kon hoor? Die swaarkry kon ruik! Hoe is dit moontlik dat mense rustig sit en God aanbid, terwyl hulle besig is om die mees onmenslike dade te pleeg?
Ek kon nie anders as om daar in die drukkende kelder te staan en te dink aan die NG Kerk se Seisoen van Menswaardigheid nie. Ons is nog so lomp hiermee. Ons het nog soveel vaardighede nodig. Ek wonder: Wie is die mense wat vir ons onsigbaar is? Wie is die mense met wie ons praat – en nie praat nie? Na wie luister ons – en na wie nié?
Daar is baie sake waaroor ons moet praat, waarvoor ons moet bid. Dit gebeur egter te dikwels dat ons oor een saak praat en mense reageer (dalk onbewustelik) op ’n manier wat die saak onsigbaar probeer maak. Byvoorbeeld: “Hoekom praat julle oor geweld teen vroue, maar nie oor die boere wat vermoor word (of die droogte of wat ook al) nie?” Dit terwyl daar wel óók oor die boere en die droogte gepraat word. Dit terwyl sommige studies beweer dat daar elke 17 sekondes ’n vrou in Suid-Afrika verkrag word. Die Regshervormingskommissie beraam dat daar 1,7 miljoen verkragtings per jaar in Suid-Afrika is.
Natuurlik kan ’n mens baie bespiegel oor syfers. Die realiteit van geweld teen vroue bly egter staan. Selfs een verkragting is te veel. Ons durf nie mense stilmaak wat oor hierdie onreg praat, of dit ’n “privaat aangeleentheid” noem nie. Ons moet die onreg aanspreek – alle onreg. “When we fail to name the injustice, we become factories to reproduce these power relations,” het ds Chris Ferguson, die algemene sekretaris van die WGGK, by ons byeenkoms in Ghana gesê.
Geweld teen vroue is maar een voorbeeld. Daar is nog heelwat sake (en mense) wat ons in ons onkunde onsigbaar hou. Ons begeerte om byvoorbeeld op te hou praat oor ras, is dikwels ’n manier om die probleme in ons land te ontken. Ons gesprekke oor selfdegeslagverhoudings getuig gereeld oor ons blindheid vir die mense óór wie ons praat. Ons praat nie eens oor die misdaad wat wêreldwyd die vinnigste groei nie: mensehandel.
Ek is deeglik bewus daarvan dat daar sake (en mense) is waarvoor ek self blind is. Daarom het ek mense nodig wat anders is as ek. Dit is die mense wat my help om my eie blindekolle en vooroordele raak te sien en te oorkom.
Jesus is Heer. Dit beteken dat niks anders as heer geag word nie. Geen sisteem van ontmensliking kan oor ons heers nie. “We believe that the integrity of our faith is at stake if we remain silent and refuse to act in the face of injustice,” het dr Setri Nyomi, die vorige algemene sekretaris van die WGGK, op die vergadering in Ghana gesê. “The message will not be clear, unless we are setting an example.”
Ek sukkel nog om te verwoord wat ek in Ghana beleef het. Wanneer mense vra: “Hoe was Ghana?” dan antwoord ek maar net: “Warm.”