Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
God stuur sy Seun na die wêreld. Hy stuur ook sy Heilige Gees na sy volgelinge om van hulle ’n beweging te maak in die wêreld. Elke gelowige word so deel van God se sending na die wêreld.
So klink die basislyne van die sogenaamde “missionale teologie”. Missionale transformasie beteken dus dat die kerk sy selfverstaan en sy doen en late belyn met hierdie teologie.
Baie redeneer dat die kerk homself nog altyd so verstaan het. Die beleidsdokument van die Algemene Sinode (2013) dui egter baie duidelike redes aan waarom daar inderdaad transformasie nodig is.
Oor die eeue het daar subtiele verskuiwings in ons kerklike denke plaasgevind. Die kerk het onder meer begin opereer vanuit verskillende posisies van mag. Reformasie beteken dat die kerk terugkeer na sy bronne.
Vandag verg dit ’n paradigmaskuif om ’n kerk te sien sonder mag, ontledig tot slawe, voortdurend selfprysgewend na die voorbeeld van die Hoof.
So ’n kerk is nie primêr hier ter wille van sy lidmate nie, maar ter wille van die heil van die wêreld. Elke gelowige leef dan vanuit ’n roeping en ’n opdrag. Elke gelowige word slaaf en kneg in ’n beweging wat gefokus is op die koms van die koninkryk.
Die Algemene Sinode se moderamen (ASM) het in November 2015 besluit om nou ’n strategie vir die missionale transformasie van die kerk te ontwikkel. Die ASM het slegs twee prioriteite vir die termyn bepaal. Missionale transformasie is sy eerste prioriteit. Die taakspanne wat hiermee gemoeid is, het onlangs saam vergader en groot vordering is reeds gemaak. Die ASM sal reeds op sy vergadering in Maart ’n voorgestelde strategie oorweeg.
Soos die strategie nou ontwikkel, word daar op vier vlakke gedink oor die lewe van die kerk, naamlik dié van die individu, die gemeente, die kerkverband en die samelewing.
Die implikasies strek wyd, van die geloofsgewoontes van individue en gemeentes, die erediens en liturgie, vars uitdrukkings van geloofsgemeenskappe tot by ’n “missionale kerkorde” en ’n fokus op die waarde van elke mens.
Op talle plekke is die proses van herbesinning en transformasie op ’n spontane wyse reeds goed op dreef. Gemeentes en individuele gelowiges vra grondig na die wil van die Here en breek deur eeu-oue vasgelegde gewoontes ter wille van gehoorsaamheid aan hulle roeping.
Daar is by my egter geen twyfel nie dat hierdie beweging net volhoubaar sal wees indien dit gevoed word vanuit ’n grondige kennis van God, gepaardgaande met ’n diepe bewussyn van die teenwoordigheid van God. Laasgenoemde verwys na ’n mistieke verbondenheid aan die Een wat in ons is en in die Vader is (Joh 14 en 15) en Homself weer en weer aan ons openbaar.
Oor die eeue was daar nog altyd in gereformeerde kringe ’n agterdog jeens die mistiek. Tog is die mistiek as die nadenke, aansprake, ervarings en verbeelding oor die werkinge en die werklike teenwoordigheid van God so deel van die godsdiens soos geloof self.
Allerhande voorstellings is gemaak dat mistiek wêreldontvlugtend is en subjektivisties, maar veral dat dit die sola Scriptura beginsel in gedrang bring.
Ander meen baie skepties dat dit gerig is op ’n versmelting tussen God en mens en dat dit nie rekening hou met die andersheid van God en die afstand tussen God en mens nie. Hierdie beoordeling van die mistiek was beslis nie altyd ongegrond nie.
Dit is egter goed om in hierdie verband weer kennis te neem van die werk van die Hollandse teoloog, Kornelius Miskotte. In sy omgang met die mistiek kom hy tot die eg gereformeerde oortuiging dat kennis van die teenwoordigheid van God altyd geïnterpreteerde kennis is vanuit ons kennis van die Woord van God. Dat ons vir God kan herken in die daaglikse gang van die lewe, is te danke aan ons kennis van Hom deur die Woord.
In die missionale proses het ons ’n uitstekende geleentheid om nou weer te besin oor ons verstaan van die teenwoordigheid van God.
Elke gelowige sal opnuut vanuit sy/haar kennis van God en bewussyn van die teenwoordigheid van God die werklikheid tegemoet moet leer tree.
Hiervoor sal ons waarskynlik nuwe geloofsgewoontes moet aanleer. Ons gaan nie ander resultate behaal deur net dieselfde te bly doen nie. Ons het nuwe gewoontes nodig wat ons refleksie oor die Woord en die teenwoordigheid van God in ons lewe versterk.
Ons sal op ’n persoonlike vlak nuwe ruimtes moet ontsluit vir dieper nadenke en ’n verbintenis om bewustelik te leef in die teenwoordigheid van God. Dit gaan ’n reuse-impak hê op ons getuienis oor God – die hart van die missionale beweging.
Sonder ’n eerstehandse getuienis oor die teenwoordigheid van God in ons lewe, sal die missionale beweging nie momentum behou nie. Trouens, daarsonder sal die missionale teologie op die rakke van biblioteke en in dik verslae vasval.