Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Janet Brooks Gerloff se skildery “Onderweg na Emmaus”.

Onderweg na Emmaus

Met Opstanding-sondag wat aan die einde van die Lydenstyd wag, bespreek André Bartlett ’n skildery oor die Emmausgangers.

Een van die opstandingsverhale wat deur die eeue die aandag van vele kunstenaars geboei het, is dié van die twee dissipels van Jesus wat op die Sondag van die Opstanding op reis is van Jerusalem na die dorpie Emmaus.

Die verhaal soos opgeteken in Lukas 24:13-35, leen hom daartoe om op Paassondag (of op een van die ander Sondae in Paastyd) as een van die Evangelietekste aan die orde gestel te word.

’n Treffende uitbeelding van dié verhaal is die skildery “Onderweg na Emmaus” van die Amerikaansgebore kunstenaar, Janet Brooks Gerloff (1947-2008), wat in 1992 as opdragwerk vir die Benediktynse klooster Kornelimünster geskilder is.

Die drie figure – die twee dissipels en die opgestane Christus wat saam op pad is na die moment van herkenning in Emmaus – word van agter deur die toeskouer beskou, met slegs hulle rûe en die agterkant van hulle koppe sigbaar. Die gesig van die heel linkerkantste figuur is wel gedeeltelik na regs gedraai, wat iets suggereer van ’n gewaarwording dat hier meer aan die gang is as wat met die eerste oogopslag vermoed word.

Hierdie blik van agter dien ook as uitnodiging aan die toeskouer om saam op weg te gaan en deel te word van die gesprek op pad na herkenning en dieper insig.

Die twee dissipels is in swart gewade geklee – enersyds as identifikasie met die swart monnikskleed van die Benediktynse orde, maar andersyds ook as uitdrukking van die terneergedruktheid en ontnugtering van die dissipels wie se hoë verwagtinge rondom Jesus verpletter is deur die kruisgebeure op Golgota. Die anonimiteit van die twee somber figure dui op ’n dieper vlak ook op ’n vereenselwiging met die nood, smart en ­lyding van die ganse mensdom.

Die Onbekende Reisgenoot word net in buitelyne en met potlood geskets. Dit dui op ’n aanwesigheid van die Opgestane Heer op ’n wyse wat nie in gewone, konkrete terme uitgebeeld kan word nie en dus ook nie in konvensionele denkkategorieë vasgevang kan word nie. Terself­dertyd gee dit uitdrukking aan die aanwesigheid van die Een wat altyd weer op die punt is om uit die gesig van sy volgelinge te verdwyn.

Die twee dissipels is in druk gesprek met hulle Medereisiger. Hulle herken Hom nog nie maar sou tog  later getuig dat hulle hart toe reeds, terwyl hulle saam met Hom op pad was, brandende was. Eers saam met Hom aan tafel, by die breek van die brood, sou hulle Hom eien as Christus wat uit die dood opgestaan het.

Opvallend is dat die twee dissipels in die linkerhelfte van die skildery geplaas word, met die Christusfiguur reg in die middel van die skildery – om daarmee by voorbaat aan te dui dat Hy die middelpunt is waarom sowel die gesprek as die reis wat lei na herkenning, draai.

Die landskap waarin die drie figure geplaas word, is heuwelagtig en sonder ’n duidelik gebaande weg waarlangs die reis onderneem kan word. Aardse kleure roep die gestrooptheid van ’n woestyntoneel in gedagte, terwyl die spel van lig en dreigende onweer op die horison vertel van die onbekende aard van die reis en van wat die volgelinge van Jesus te wagte kan wees.

Die plasing van die skildery in die kloostergang waar die monnike bymekaarkom voordat hulle na regs draai om die erediensruimte in prosessie te betree, is ook betekenisvol. Die toetrede tot die erediens word hiermee geïnterpreteer as ’n op-weg-wees saam met die Opgestane Heer, as deelname aan die gesprek oor die betekenis van sy dood en opstanding en as ’n uitnodi­ging om Hom in die gemeenskaplike maaltyd te ontmoet.

Saam met hierdie kunswerk en die Lukasteks sou ook die gedig “On the Road” van Clarence C Keane gebruik kon word:

We are always somewhere on the road to Emmaus,
heads bowed against the sting of wind-whipped sand.
Concerned with making miles before the end of day
we do not always hear the summons sent to us.
What does it mean to realize resurrection from the dead?
The answer is never all that clear and the road
makes so many twists and turns through Gaza,
Guatemala, Colombia, Rwanda, Israel and Sudan.
All we really know is that we must follow where it
leads and only stop to make repairs along the way
until we meet once again in Galilee.

Die verhaal van die twee dissipels word op dié manier ’n metafoor vir die voortgaande reis van die volgelinge van Christus deur die eeue: Die onsekerheid van die reis self word altyd weer in perspektief gebring deur die ontdekking dat die lewende Christus saam onderweg is en Homself op onverwagse maniere kenbaar maak waar twee of drie in sy Naam bymekaar is.

▶ Dr Andre Bartlett is hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedieningsontwikkeling van die Universiteit Pretoria.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top