Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Aan die einde van my derde jaar het ek vir die vakansie huis toe gegaan. By die huis wou my pa ernstig met my gesels. Dit was in ’n tyd wat daar min dominee-poste beskikbaar was en ’n klomp proponente het werk gesoek.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/03/Maartje-van-der-Westhuizen-2.jpg” caption=”Ds Maartje van der Westhuizen is predikant van die NG gemeente Elarduspark in Pretoria.” align=”right” width=”270px”]
My pa het my gevra of ek dit nie baie ernstig sal oorweeg om nog iets saam met die Teologie te studeer nie, hy sal ’n manier kry om vir nog ’n kursus te betaal.
Daardie hele vakansie het ek herhaaldelik deur die universiteit se verskillende studierigtings gelees. Ek het gedink my pa is wys en dit is goed dat ek ’n agterdeur oophou, maar ek kon net niks kry wat my aandag trek nie.
Daardie vakansie het ek besluit ek bly by Teologie en vat maar die uitdagings wat daarmee saam kom.
In die laaste agt jaar van my bediening is daar maar elke nou en dan tye wanneer ek wonder of ek nog kans sien, of ’n ander opsie nie dalk makliker sou gewees het nie.
Dan kom sit daar iemand in my kantoor en stort hulle hart teenoor my uit en ek kry die geleentheid om vir die persoon te bid, of mense vra my om hulle te trou en ek het die voorreg om te deel in hierdie wonderlike dag.
Dan is daar die dae wat ek preek en daardie een tannie doen die moeite om na die tyd vir my ’n SMS te stuur om te sê ek het vandag spesiaal vir haar gepreek.
Die moeilikste vir my is ’n begrafnis, maar ek besef elke keer dat mense my as dominee deel maak van die seerste en intiemste tyd in hulle lewe en dan weet ek, ek staan op heilige grond.
As ek terugdink aan my keuse om ’n dominee te word, weet ek vandag ek sal dit weer kies.
As ek so na al my kollegas om my kyk, weet ek ons almal is anders, maar ek weet dat God vir elke dominee ’n belangrike werk in sy koninkryk het.
Ons as kollegas (in die groter kerk) moet mekaar aanhou aanmoedig en versterk vir die wonderlike werk waarmee die Here ons vertrou. Ons moet mekaar ook aanmoedig om elke dan en wan ons roeping opnuut te ontdek.
Mag ons altyd onthou watter voorreg dit is om, as dominees, God se liefde aan almal rondom ons oor te dra!