Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Kobus Visser van Middelburg skryf:
Dr Chris Jones skryf Genesis is nie histories-letterlik waar nie, die Bybel is grootliks ’n menslike boek, daar is nie ’n “Bybelse huwelik’’ nie en dat kerke tradisioneel heteroseksuele instansies is.
Inderdaad het die universele kerk tot ongeveer 1950 geglo in ’n tradisioneel heteroseksuele huwelik.
Veronderstel God wil `n wêreld skep waar `n huwelik ’n man en `n vrou benodig. Hoe sal Hy dit doen?
Die logiese vloei van God se gedagtegang sou dan wees dat wanneer ’n man en ’n vrou een word, dit ’n huwelik genoem word en uit die eenwording kinders gebore word. As God dus ’n wêreld wou skep waar ’n normale huwelik en seksuele verhouding tussen twee persone van die teeenoorgestelde geslag is, pas dit perfek in by Genesis 1 en 2.
Enige ander tipe huwelik sal ’n totaal ander skeppingsverhaal verg , byvoorbeeld een van twee mans of twee vrouens. Genesis 2 is duidelik dat een man en een vrou een vlees word.
Hieruit volg dit dat wanneer ons wil kyk wat die Bybel leer oor homoseksualiteit ons by Genesis moet begin.
Anders as wat Jones beweer, is die Bybel God se geïnspireerde Woord en het groot waarde om in die waarheid te onderrig en verkeerdhede reg te stel (2 Timoteus 3:16). Homoseksualiteit (alle vorme, nie net tempelprostitusie en pederastie nie (die woord kom nie in die Bybel voor nie) en enige ander buitehuwelikse seks word regdeur die Bybel as sonde uitgewys. In 1 Korintiërs 6:9 gebruik Paulus die Griekse word “arsenokotai” (’n man mag nie by ’n man lê soos by `n vrou nie). Dit is dieselfde woord wat in Levitikus 18 en 20 in die Septuagint gebruik word.
Ons moet nie ons verstand die oorsprong van ons kennis maak nie, maar die Bybel as God se geopenbaarde Woord. Dan is ons verstand net die kanaal waardeur die kennis na die wêreld vloei.
Ook moet ons begeertes, belewenisse en gevoelens nie hoër gesag as die Woord van God hê nie.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.