Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Ons moet bly praat

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.


Nico Jacobs van Kleinmond skryf:

Baie dankie vir die reeks artikels in die Kerkbode oor selfdegeslagverhoudings. Dit is baie insiggewend en skep die broodnodige geleentheid tot verdere inligting en gesprek.

As ’n mens rustig die verskillende artikels wat tot dusver geplaas is, lees, blyk dit duidelik dat daar ’n groot gaping tussen dié ten gunste van en dié teen die Sinode se besluit is. Tweedens blyk dit dat die gaping nie in ’n enkele artikel of gesprek oorbrug sal kan word nie.

Aan die een kant is daar ’n siening wat op ’n tradisionele verstaan van die Skrif en Skrifgesag gegrond is. Aan die ander kant word  ’n ander of breër perspektief uitgelig. Die verskil tussen die twee bestaan egter al lankal.

Professor Willie Esterhuyse praat hiervan as kweekskoolteologie en preekstoelteologie. Hiermee wil hy beklemtoon dat baie sake waaroor daar alreeds lankal op fakulteite gepraat word, nie deurwerk na gemeentevlak en gewone lidmate nie. As gevolg hiervan word sekere besluite dikwels op gemeentevlak as nuut en skokkend ervaar.

Mens kry die indruk dat persone wat teen die gaysaak skyf, dikwels redeneer vanuit die standpunt dat alles mos vas en seker is en algemene kennis is. Dit is mos tog nie so nie. Ferdinand Deist het al baie jare gelede geskryf: “dit is waarom ons die Bybel in elke nuwe situasie (sy kursivering) met hernude afwagting van die Gees van God moet lees.”

Wat nodig is in die tyd waarin ons ons nou bevind is dat ons aanhou gesprek voer. Een skrywer som dit mooi op: “we make the road by walking”. Die proses van leer by mekaar kan net heilsaam wees as ons dit doen in die lig van die opmerking van Dr. Coenie Burger toe hy gesê het die kerk het alleen ’n getuienis teenoor die wêreld as ons die gesprek oor ons verskille kan voer sonder om die kerk te laat skeur.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.