Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die Heer het opgestaan, die Heer het waarlik opgestaan! Dit bely Christene al eeue lank. Jesus is die Here, Hy leef en Hy is teenwoordig in Afrika, Asië, Amerika … en dit is ook waar vir Suid-Afrika.
Ek was binne die bestek van ’n week by drie verskillende NG gemeentes in onderskeidelik die noordelike voorstede van Kaapstad, aan die Wes-Rand van Johannesburg en in die hartjie van Zoeloeland. In die gemeentes in die stad en op die platteland het ek ’n warmte, ’n gasvryheid gevind en ’n behoefte om die Here Jesus Christus te volg.
Die gemeentes funksioneer in hul eie unieke kontekste met hul eie uitdagings. Tog vind ek dat mense orals graag wil “behoort”. Hulle wil ’n verhouding bou met Christus en met mekaar en hulle wil in hul eie kontekste lewe gee.
Die gemeentes is almal betrokke in hul gemeenskap. Hulle reik uit na ’n gebroke wêreld en maak ’n verskil. Ek het beleef dat gemeentes graag lewe wil deel en dat hulle weet ons word uitgestuur om in ons omgewing Jesus te gaan wees vir ander.
Op grondvlak leer kinders om klere en speelgoed bymekaar te maak en te gaan uitdeel, ander maak water bymekaar en deel dit. Baie is betrokke by tehuise vir gestremde mense, babas en bejaardes. Ek sien die lewe en ek besef daar is lewe in die NG Kerk. Ja, die NG Kerk is relevant ook vir ons tyd.
Daar is op die meeste dorpe in ons land ’n NG Kerk wat met haar hulpbronne, mensehande en -harte en met haar geboue Jesus lewendig teenwoordig kan maak – en ek glo elke gemeente wil dit doen. Daarom is ek diep dankbaar vir die kerk waarvan ek deel is. Ek het die lewendige boodskap nodig wat die kerk moet uitdra en ek weet baie ander ook.
Partykeer dink ek wel die kerk, of mense in die kerk, skiet haarself in die voet. Want ons fokus op dít waaroor ons verskil en dan mis ons die mooi wat wel gebeur in die kerk. Ons wil mekaar se Christenskap en integriteit en manier waarop ons die Woord lees in twyfel trek, en dan mis ons die lewendige Jesus in mekaar deur nie na mekaar te luister en mekaar se menswees te ontmoet nie.
Ons kontekste verskil, dis dalk hoekom ons so verskil oor sake. Tog het ek hoop vir ons kerk, want die opgestane Here Jesus is lewendig teenwoordig, in die kerk en in menselewens wat ’n verskil maak in hul eie omgewing. Kom ons vertel eerder die stories van hoop en maak so die Here lewend vir mekaar.