Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Geloofsvorming en gestuurdheid


Ek was die afgelope tyd betrokke by gesprekke oor die kerk se droom vir sy lidmate. Hoe lyk die ideale lidmaat, was die vraag waaroor daar gedink is, en hoe word hulle gevorm?

Watter onsinnige vrae, sal sommiges sê. Lidmate verskil immers van mekaar. Ons kan nie met ’n enkelvoudige beeld van ’n lidmaat werk nie. Die Bybel leer immers dat lidmate verskillende gawes het. Ook dat lidmate nie altyd saamstem oor alles nie en dat hul roeping verskil.

 

Aan die ander kant, sou ’n mens kon redeneer, is dit die kernfunksie van die kerk om mense te begelei in hul geloof en tot geloof in Jesus Christus.

Intussen het die kerk ook ’n omvattende verbintenis tot missionale transformasie. Hieroor word tans baie gepraat. Die Algemene Sinode het immers opdrag gegee dat die moderamen ’n strategie moet ontwikkel met die oog op missionale transformasie.

Die werk wat in die NG Kerk op barmhartigheidsterrein gedoen word, is uitgebreid. Die nadenke oor missionêre diakonaat, of dan “gestuurde diensbaarheid”, kom reeds ’n lang pad. Uit hierdie werk kan reeds baie geleer word oor die praktiese implikasies van ons gestuurdheid na mense in nood.

Onlangs is ’n indaba gehou met die oog op die vorming van ’n jeugnetwerk tussen die tien deelnemende sinodes van die Algemene Sinode. ’n Wonderlike gesprek het plaasgevind oor die kerk se geloofsvormende werk met jongmense.

Die taakspan vir kategese het onder meer hul beleid oor geloofsvorming voorgehou. Terloops, hierdie taakspan doen uitstekende werk onder leiding van Johan Avenant en ons is aan hulle groot dank verskuldig. Hulle bied via Bybel-Media ’n keuse van produkte aan gemeentes wat dan self kan oordeel watter van die kategesereekse hul konteks die beste pas.

Daar is ook terugvoer gegee oor die #imagine-bewe­ging. Die oortuiging is dat hierdie beweging ’n baie positiewe en beduidende bydrae lewer tot tieners se geloofsvorming. #imagine is ’n rollende beweging waarvan die NG Kerk die gasvrou/-heer moet bly.

So kan ons verseker dat ons tieners só daardeur gevorm word dat die NG Kerk vir hulle ’n voorkeurtuiste bly. Hoewel #imagine ’n ekumeniese karakter het, sal ons as gasheerkerk die voorreg behou om ons eie teologiese stempel sterk daarop af te druk.

Ons tieners word nie net aan vriende van ander kerke blootgestel nie, maar hulle word ook aan ons blootgestel. ’n Kerk met ’n sterk identiteit behoort hierdie soort geleenthede aan te gryp vir leer en beïnvloeding.

Daar bestaan ook ’n taakgroep vir gesinsbediening. Natuurlik is die ouerhuis die belangrikste plek vir geloofsvorming.

Die onlangse publikasie Skokkend Positief onder redaksie van Malan Nel en Zander van der Westhuizen is gegrond op navorsing wat onder tieners gedoen is. Die boek vertel dat daar bevind is dat die grootste rolspelers in tieners se geloofsvorming vandag predikante, ma’s en pa’s, vriende en vriendinne is – in hierdie volgorde.

Die rol van predikante was vir my besonder betekenisvol. Dit verteenwoordig ’n beduidende styging oor die afgelope jare in die plek wat predikante en die kerk inneem in tieners se lewe.

Die opleiding van ons predikante speel uiteraard ’n wesenlike rol in die wyse waarop gemeentes uiteindelik dink oor geloofsvorming van kinders, tieners en vol­was­se­nes. Net so kan die impak van ons Verdere Be­dienings­onderrig-kursusse vir predikante nie on­der­skat word nie.

Daar is by my geen twyfel nie dat daar nou op ’n geïntegreerde manier gedink moet word oor die kerk se stra­te­gie vir geloofsvorming en missionale transformasie. Hier­die strategie moet die teologie en die onderskeie werk­saamhede en fokusse van die kerk met mekaar belyn met die oog op geloofsvorming binne en buite die kerk.

Ek is ook daarvan oortuig dat ons nuut sal moet dink oor ’n strategie vir geloofsvorming van ons jong naskoolse lidmate. Ruimtes sal gevind moet word waarin jong studerende en werkende lidmate se geloofsvorming ernstig opgeneem word. Ander denominasies vaar dikwels hiermee beter as ons. Ek kan aan geen prinsipiële of substantiewe rede dink waarom dit so moet wees nie.

Die Algemene Sinode het ’n teologiese funksie. Die teologiese ooreenkoms wat ons met mekaar het oor geloofsvorming val myns insiens binne die mandaat van die Algemene Sinode. Die praktiese werk moet deur gemeentes gedoen word. Maar dat die Algemene Sinode nou gekoördineerde strategiese leiding moet gee oor geloofsvorming en ons gestuurdheid kan nie betwyfel word nie.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.