Op reis terug deur die geskiedenis staan ons vir ’n oomblik stil in die jaar 1505.
’n Briljante jong regstudent met die naam Martin Luther is op pad van Stotternheim na Erfurt. ’n Geweldige storm dreig en wanneer ’n weerligstraal die jong Luther byna raakslaan, roep hy uit: “Red my heilige Anna en ek sal ’n monnik word!” ’n Weerligstraal was immers ’n duidelike teken van die oordeel van God – dit het enige goeie Duitser geweet.
Wanneer Luther hom op 17 Julie 1505 by die Augustynse klooster in Erfurt aanmeld “om sy siel te red”, is dit die begin van ’n verhaal wat die geskiedenis van die kerk onherroeplik verander het.
Martin Luther is op 10 November 1483 in Eisleben gebore. Sy pa, Hans, was ’n mynwerker in Mansfeld. Dit het veroorsaak dat Luther as deel van die werkersklas swaar grootgeword het. Armoede en harde werk was deel van sy bestaan.
In 1497 het sy pa hom na die Domschule in Magdeburg gestuur waar Luther vir die eerste keer met ’n volledige Bybel in aanraking gekom het. Hy het later verklaar dat hierdie gebeurtenis ’n onuitwisbare indruk op hom gemaak het.
Luther het sy aanvanklike regstudie in April 1501 onder die naam Martinus Ludher von Mansfeld aan die Universiteit van Erfurt begin. Hy was ’n briljante student wat sy BA-graad in slegs twee jaar verwerf het.
Op 9 Maart 1509 het hy sy graad in Teologie ontvang en slegs drie jaar later is ’n doktorsgraad in Teologie op 18 Oktober 1512 deur die Universiteit van Wittenberg aan hom toegeken.
Hierdie akademiese prestasie was merkwaardig veral omdat Luther dit te midde van ’n ernstige innerlike worsteling behaal het. In sy eie woorde: “Ek was vir 20 jaar ’n monnik en het myself geteister met gebede, vas, wake en koue tot so ’n mate dat ek amper van die koue gesterf het … Wat anders was dit as ’n soeke na die ware God?”
Hoe meer Luther egter na die ware God gesoek het, hoe minder kon hy Hom vind. Dit het Luther laat verklaar dat hy God nie liefhet nie, maar eerder haat. Min het hy geweet dat die God na wie hy gesoek het, slegs maar ’n karikatuur was van die ware God wat Hom in Jesus Christus aan die wêreld kom bekend maak het. Hierdie lig sou aanstons vir hom deurbreek!
▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.