Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Oor leierskap en verantwoordelikheid

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Die afgelope tyd het die kritiek – ook vanuit kerklike en ekumeniese kringe – teen die leierskap (of gebrek daaraan) van president Jacob Zuma sterk momentum gekry. Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het byvoorbeeld in ’n ontmoeting met die ANC vir die bedanking van die president gevra.

In die dae in Aprilmaand wat die media oor die ontmoeting tussen die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en die ANC-afvaardiging berig, plaas ’n vriend op Facebook ’n herinneringsnota aan die dood van die Duitse predikant en teoloog Dietrich Bonhoeffer wat op 9 April 1945 vir sy politieke weerstand teen die Nazi-regime tereggestel is.

Bonhoeffer is bekend vir sy werke soos Dissipelskap (Nachfolge), Die lewe saam (Gemeinsames Leben) en die briewe wat hy uit die gevangenis geskryf het (Widerstand und Ergebung). Minder bekend is ’n teks van ’n radiopraatjie wat hy op 1 Februarie 1933 gelewer het – enkele dae nadat Hitler kanselier geword het.

Bonhoeffer waarsku in dié praatjie (oor “Die leier en die individu in die jonger generasie”) dat die beeld van die Führer (leier) maklik in die beeld van die Verführer (die een wat mislei) kan oorslaan. Voordat Bonhoeffer egter sy praatjie kon voltooi, is dit kortgeknip, maar Bonhoeffer kon wel later die teks daarvan versprei.

Ek wil nie hier op die detail van hierdie besonderse teks van Bonhoeffer ingaan nie (vir dié wat dit wil lees, dit is in Engels vertaal en in die Dietrich Bonhoeffer Works 12 opgeneem). Ek wil wel op een van sy aksente in die praatjie fokus.

Bonhoeffer wys daarop dat daar ná die Eerste Wêreldoorlog onder die jonger generasie ’n groeiende behoefte na ’n sterk leiersfiguur ontstaan het. Maar, sê Bonhoeffer verder, gegewe hierdie behoefte is daar die versoeking dat daar ’n oordrag van verantwoordelikheid kan plaasvind.

Alle hoop word op die leier geplaas en in die proses word alle gesag na die leier verskuif. Waar gesag vroeër in die posisie of “amp” van byvoorbeeld die ouer, die onderwyser of die staatsamptenaar geleë was, word hierdie gesag nou oorgedra na ’n geïdealiseerde leiersfiguur.

Ek dink nie dat Bonhoeffer die punt wil maak dat ons nie sterk leiersfigure in die politieke, ekonomiese of kerklike lewe benodig nie. Ons land en kerk het immers goeie leiers nodig wat met morele integriteit leef.

Maar die gevaar is inderdaad daar dat ons alle gesag en hoop na ons leiers verplaas en sodoende van ons eie verantwoordelikhede afstand doen.

Kerke in Suid-Afrika – ook die NG Kerk – staan tans voor ’n groot uitdaging in die lig van die huidige onstuimige politieke klimaat en negatiewe ekonomiese vooruitsigte. En dan is daar boonop groeiende polarisasie op kerklike en godsdienstige gebied.

In so ’n tyd kan ons maklik dink dat die antwoord vir ons diepliggende probleme alleenlik in ’n nuwe president geleë is. Morele en bekwame leiers is sekerlik nodig en ons moet ons leiers in die openbaar aanspreeklik hou, maar in die proses mag ons nie van ons roeping en verantwoordelikheid as landsburgers, kerklidmate, én volgelinge van Jesus abdikeer nie.

Dalk is wat ons die nodigste het nie bloot beter leierskap nie, maar meer getroue en verantwoordelike volgelingskap.

▶ Prof Robert Vosloo doseer sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top