Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Daniel van Rooyen skryf:
Dit is met groot belangstelling dat ek die debat oor homoseksualiteit in Kerkbode volg. Ek het groot waardering vir die wyse waarop Kerkbode die saak hanteer en vir die belangrikheid wat daaraan toegeken word.
Dr Chris Jones (Kerkbode, 19 Februarie 2016) verduidelik baie interessant dat daar nie ’n “Bybelse huwelik” bestaan nie. My verstaan was lank reeds dat die “huwelik” tot stand kom wanneer twee persone ’n belofte aan mekaar aflê dat hulle in liefde en trou hulleself aan mekaar verbind.
Dit kom baie ooreen met die wyse waarop ons deesdae verloof raak. Dit het later ontwikkel dat daar getuies moes wees om dit te bevestig. Toe het dit ontwikkel dat die priester die getuie was omdat hy as geloofwaardig gereken is. Daarna het die seremonies rondom die huwelik ontstaan.
Die juridiese huwelik het eers in die laaste paar honderd jaar in werking getree. Ons hedendaagse verstaan van die huwelik is in meeste gevalle egter die bestaan van die juridiese huwelik, wat ’n moderne instelling is, en ons wil dit terugwerkend op die sogenaamde “Bybelse huwelik” toepas.
Prof Dirk Human (Kerkbode, 4 Maart 2016) verduidelik baie insiggewend dat die Sodom-verhaal oor verkragting gaan en nie oor gay verhoudings in die konteks van liefde en trou aan mekaar nie.
Prof Fanie Snyman (Kerkbode, 4 Maart 2016) bevestig baie sterk my mening dat die kultuurhistoriese konteks van enige gebeure in die Bybel reg verstaan moet word met sy stelling: “Hermeneuties gesien is dit ondenkbaar dat die tekste uit die Ou (of Nuwe) Testament lukraak en sonder sensitiwiteit vir die literêre of historiese konteks aangehaal word as vasstaande ‘bewyse’ vir of teen homoseksualiteit in die 21ste eeu.”
My waarneming is dat al die deelnemers aan die debat nou hul saak op die tafel plaas en dit probeer fundeer vanuit ’n bepaalde insig en verstaan van die Bybel. Ek beleef dit nog nie op algemene vlak dat ons vir mekaar begin sê dat ons mekaar se insig verstaan nie.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
