Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Omdat jy glo, sal jy lewe!

“Ek het met uie aangekom en met knoffel weggegaan.”

Hierdie woorde van Martin Luther vertel iets van sy ontnugtering na sy besoek aan Rome. Wat veronderstel was om ’n hoogtepunt op sy geestelike reis te wees, het in ’n nagmerrie ontaard. Hy was in sy eie woorde: “soos Jesaja ’n sondaar tussen sondaars.”

Teen die tyd dat hy sy doktorsgraad op 18 Oktober 1512 van dr Andreas von Karlstadt ontvang het, het Luther al die moontlikhede wat die kerk gebied het om vrede te vind, uitgeput.

Hoe meer hy daarna gestreef het om die beeld van ’n kwaai God af te skud, hoe minder het hy dit reggekry. Hy kon op geen manier van sy eie skuld ontslae raak wanneer hy oor die regverdige God nagedink het nie. Luther kon die God wat hy as kind leer ken het, vrees of selfs haat, maar liefhê – nooit.

Die jong monnik sou egter in sy soeke na die regverdige God nie rus voordat hy Hom gevind het of homself oortuig het: “dat so ’n God nie bestaan nie”.

In die herfs van 1515 tref ons Luther by die Universiteit van Wittenberg aan waar hy klas gee oor Paulus se brief aan die Romeine. Hoe meer Luther met die teks van Romeine geworstel het, hoe meer het hy hom blindgestaar teen ’n kwaai God.

Die deurbraak kom wanneer Luther, ná dae en nagte se worsteling oor Romeine 1:17 ontdek dat die “regverdigheid van God in die evangelie geopenbaar word” en dat “die regverdiges deur geloof sal leef”.

Skielik het hy verstaan dat God mense uit genade vryspreek omdat hulle glo. Oor hierdie ontdekking skryf Luther: “Skielik het ek gevoel of ek weer gebore word en het ek geglo dat ek die paradys deur wyd geopende deure binnegegaan het.”

Hierdie bewuswording het Luther onder meer laat sê: “’n Christen is vry van alle dinge: hy het geen goeie dade nodig om geregverdig en gered te word nie, maar hy ontvang alles in oorvloed deur geloof alleen.”

Wat die kerk as instituut deur sy sakramente nie vir Luther kon doen nie, het die Woord gedoen. Christus het vir sondaars gesterf en wie in Hom glo is uit genade vrygespreek en gered. Uiteindelik het Luther ’n regverdige God gevind! Hierdie “ontdekking” sou die gang van die geskiedenis van die kerk verander.

▶ Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis aan die Universiteit Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top