Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Waarom ’n konferensie oor water hou? Waarom drie dae spandeer om predikante en gemeenteleiers bymekaar te laat kom om oor water te praat? Water kry nuwe betekenis wanneer:
- groen weivelde in woestyne verander,
- daar letterlik net lewe rondom ’n windpomp is,
- krane in dorpe leegloop en die inwoners nie drinkwater het nie,
- ’n gemeente die een biddag vir reën na die ander hou en die sluise van die hemel gesluit bly.
Dit is teen hierdie agtergrond dat die Eenheid vir Bedieningsbegeleiding in die NG Kerk Vrystaat hierdie jaar hulle jaarlikse gemeentekonferensie te Gariepdam gehou het.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/05/Carin-van-Schalkwyk1.jpg” caption=”Dr Carin van Schalkwyk is predikant op Philippolis en skriba van die Vrystaatse Sinode.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]
Tydens die konferensie is daar interdissiplinêr na alle aspekte van water gekyk. Daar is saam stil geword in die oggend en die aand rondom ’n teks wat oor water handel. Daar is geluister na verskeie kenners oor hoe om water sinvol te bestuur en hoe die kerk betrokke kan raak by waternood. Daar is geluister na verhale van waar gemeentes letterlik die gawe van water uitgedeel het aan gemeenskappe en hoe hierdie gemeentes hoop gebring het in oënskynlik hopelose situasies.
Daar was ’n paar oomblikke wat uitgestaan het by die konferensie.
Dr Doreen Atkinson, politieke wetenskaplike en aktivis rondom hidrobreking, het in haar aanbieding aangesluit by die haglike situasie waarin boere hulle in die droogte bevind. Sy het gewonder of hidrobreking nie vir baie boere met die eerste oogopslag ’n finansiële uitkoms sal bied nie.
Sy het voortgegaan om op ’n eenvoudige en bevatlike wyse aan die konferensiegangers te verduidelik wat hidrobreking is en watter geweldige invloed dit op die ondergrondse watertafel van die Karoo sal hê. Sy het die kerk uitgedaag om betrokke te raak by die gesprek rondom hidrobreking en om lidmate te bemagtig om te verstaan waaroor dit alles gaan.
Sy het die kerk inderdaad ook daaraan herinner dat gelowiges ’n verantwoordelikheid en taak het om die aarde te bewerk en te bewaar. Met reg het sy gevra waarom die kerk op die kantlyn staan en nie betrokke raak by hierdie belangrike kwessie nie.
Dr Johan Nel, van die Hervormde Kerk, het met konferensiegangers gepraat oor die invloed wat die droogte en die meegaande tekort aan water op boere en hul uitgebreide familie het. Hy het verduidelik hoe die tekort aan water tans nie net ’n krisis in die landbou veroorsaak nie, maar ook in gesinne.
Wanneer daar nie genoeg reën val nie, en alles droog word, neem die druk ook op die boerderygemeenskap toe. Dit word al hoe moeiliker vir die boer om nie net sy diere te versorg nie, maar ook sy werkers en familie. Dit veroorsaak spanning en konflik in families omdat almal konstant onder enorme druk lewe.
Hy het veral die rol van die plaaslike leraar beklemtoon om boere en hulle gesinne pastoraal te versorg. Die kerk het die verantwoordelikheid om nie net die spanning en konflik te help hanteer nie, maar ook om te bemoedig en om voorbidding te doen.
Daar is nie net teoreties oor water deur verskeie kenners gepraat nie, maar konferensiegangers is ook aangemoedig om prakties oor water te dink. Deur te luister na verhale van gemeentes wat hoop gebring het in dorpe is konferensiegangers gehelp om te dink hoe hulle betrokke kan raak. Wat hulle plaaslik kan implementeer om lidmate bewus te maak van die nood en hoe om ook water spaarsamig en meer effektief te gebruik.
Die Vrouediens van die Vrystaatse kerk het hulle watertenkprojek tydens die konferensie bekend gestel en Vennote in Getuienis het ’n watertenk en ’n groentetuin in die gemeenskap van Gariepdam opgerig. Kinders van die plaaslike laerskool is saam met konferensiegangers geleer hoe om ’n groentetuin aan te lê en hoe om die groente te versorg.
Die droogtehulpprojek van die NG Kerk is aan die konferensiegangers bekendgestel. Met die bekendstelling van hierdie projek is ook ’n stuk getuienis gelewer van hoe oop hande van lidmate van die NG Kerk dwars oor die land is om fondse in te samel om gemeenskappe en boere in krisis te help.
Die “Water Lewe-konferensie” het inderdaad weer hoop en lewe gebring aan gelowiges wat moedeloos en bekommerd is oor die droogte en tekort aan water in dorpe. Dit het ook weer onderstreep watter belangrike rol die kerk het om te vervul binne hierdie gemeenskappe.
Wat oënskynlik na ’n sinnelose tema gelyk het om oor konferensie te hou, het soos ’n klein stroompie begin vloei en in ’n magtige rivier uitgemond.
Waar water is, is lewe. Waar die kerk is, is lewe. Water en die kerk is onlosmaaklik deel van mekaar.
