Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dit gebeur waar verhoudings gebou word

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Wat of wie is die kerk? Hoe moet sy/ons/ hulle/dit lyk?

Dalk is dit vanselfsprekend vir sommige dat daar nie ’n duidelike antwoord op hierdie vraag is nie. Vir ander is hulle antwoord op die vraag net so vanselfsprekend.

Vir die radikales onder ons is dit ’n plek wat stagneer het en vir die meer konserwatiewes is dit ’n plek wat te vinnig verander.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/06/Marietjie-teks.jpg” caption=”Ds Marietjie Steyn is predikant van die NG gemeente Bloubergstrand.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]

Sommige soek eenheid in hulle teologie, maar mis die feit dat dit die einste teologie is wat te dikwels verdeel. Sommige vind vrede in eentonigheid, maar mis die kleurvolheid van God se diverse bediening; ander is so besig om diversiteit te soek, dat hulle die vrede van God se boodskap mis.

Ek het uit die aard van die saak nie ’n duidelike antwoord op hierdie vraag nie, maar die Evangelies en Handelinge en so baie van die briewe help my wel om leidrade raak te lees – eienskappe wat dalk die moeite werd is om meer ernstig op te neem. Selfs al verskil die konteks.

In Efesiërs 4 teken die skrywer ’n prentjie van hoe die kerk kan lyk. Hy kom wys ons dat ons kan deel wees van ’n kerk waar mense, volgens hulle roeping, beskeie, vriendelik en geduldig is en mekaar in liefde verdra.

Dit is ’n plek waar mense ontdek wat hul gawe is en die geleentheid kry om dit uit te leef. ’n Plek waar eenheid belangriker as enige opinie is en deur die Gees self bestuur word. ’n Plek waar mense die kans gegee word om tot volwassenheid in hulle geloof te groei.

Die kerk is ’n plek waar die waarheid bo alle persoonlike agendas geld. ’n Plek waar mense mag kwaad word oor ongeregtigheid en selfs mag verskil, maar nie ’n dag kwaad afsluit nie. ’n Plek waar mense goedge­sind en hartlik teenoor mekaar is en mekaar vergewe soos wat God ons in Christus vergewe het.

Hierdie is maar net een van die vele gedeeltes wat ons help om die kerk te sien soos wat sy veronderstel was om te wees. Die ongelooflike hiervan is dat dit nie onmoontlik is nie.

Hierdie eienskappe van die kerk word gevestig daar waar verhoudings gebou word, daar waar ons mekaar beter leer ken, daar waar ons in liefde nader aan Christus en sodoende ook nader aan mekaar groei.

Dalk as ek Efesiërs 4 in een sin moes opsom sou dit wees: Mag ons as kerk nader leef – nader aan mekaar, nader aan die wêreld en bowenal nader aan Christus.

Ds Marietjie Steyn is predikant van die NG gemeente Bloubergstrand.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top