Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Ek kan nie anders nie.”

“U Keiserlike Hoogheid en die ander geëer­de here verwag ’n eenvoudige antwoord. Wel, hier is dit, eenvoudig en reguit. Tensy ek deur die Skrif veroordeel word van ’n dwaling, of (aangesien ek geen vertroue het in die ongegronde ge­sag van die pous of die konsilies nie omdat dit duidelik is dat hulle dikwels gedwaal en hulleself weerspreek het) deur gesaghebbende beredenering, ag ek myself gebon­de deur die Skrif waarop ek my beroep het. My gewete is ’n gevangene van God se Woord. Ek kan en sal niks herroep nie, want om teen ons gewete op te tree, is nóg veilig, nóg geoorloof. Hier staan ek. Ek kan nie anders nie. God help my. Amen …”

Met hierdie beroemde woorde het Martin Luther op 18 April 1521 tydens die Ryksdag van Worms finaal die streep in die sand getrek.

In die bykans drie jaar wat verloop het sedert 31 Ok­tober 1517 het die konflik tussen Luther en die kerk ver­skerp. Nadat Luther deur kardinaal Cajetan gekonfronteer is en na Rome ontbied is, moes hy vir sy lewe uit Augsburg vlug. In Julie 1519 het Luther in ’n twis­ge­sprek met Eck van Leipzig die pous se opperge­sag en die onfeilbaarheid van konsillies verwerp.

In Junie 1520 is Luther vergelyk met ’n wilde vark wat ’n wingerd ingedring het, in die pouslike bul (brief) waarin hy met ekskommunikasie gedreig is. Dié brief van pous Leo X is tydens ’n feestelike geleent­heid in Wittenberg deur Luther en sy mede-professore en studente verbrand.

In die herfs van 1520 het Luther drie boekies ge­skryf wat duidelik aangedui het dat daar nie meer om­draai­kans was nie. ’n Ope brief aan die Christelike adel van die Duitse volk het eerste verskyn. Daarin het Luther klem gelê op die priesterskap van elke gelowige.

Dit is gevolg deur Die Babeloniese gevangeniskap van die kerk waarin Luther die sewe sakramente van die kerk bevraagteken het en beklemtoon het dat die Bybel net twee sakramente, naamlik die doop en nagmaal ken.

Die laaste van die drietal was Die vryheid van ’n Chris­ten waarin Luther beklemtoon het dat die Bybel leer dat mense uit genade en op grond van geloof alleen gered word.

Na die Ryksdag van Worms het die kerk alles in sy ver­moë gedoen om Luther as misdadiger te brandmerk. Frederik van Sakse het hom egter oor Luther ont­ferm en aan hom skuiling gebied in ’n kasteel te Wartburg. Hier het Luther al sy tyd en energie gebruik om die Nuwe Testament in Duits te vertaal sodat almal die Bybel kon lees.

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit Pretoria.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top