Die Pelgrimstog van Hoop wat deur Communitas ontwikkel is, het onlangs ’n nuwe been gekry. Dit begin by Stellenbosch en sluit by Genadendal aan by die gevestigde roete. ’n Groepie pelgrims het hierdie net meer as 100 km in Junie gestap. In die volgende paar uitgawes van Kerkbode kan lesers kom saamstap. Neels Jackson is die reisgids.
Ons begin op die Braak in Stellenbosch, by die gebou van die Rynse gemeente. Op die een gewel staan die jaartal 1840, maar dit is die jaar dat hierdie vleuel van die kerk aangebou is. Op die ander gewel staan 1823.
Hier het die Rynse Sendinggenootskap in 1801 ’n bediening onder slawe begin. Vandag is die gemeente deel van die Verenigende Gereformeerde Kerk.
Ouderling Gert Hendriks vertel vir ons dat slawe Christelike onderrig kon kry, maar nie gedoop kon word nie. As ’n slaaf gedoop is, is hy of sy as ’n Christen beskou – en dan moes die slaaf vrygelaat word.

Die kansel in Stellenbosch se Moederkerk wat ontwerp is in ’n Gotiese styl wat by die argitektuur van die gebou pas.
Hy vertel ook dat die kansel in die kerkgebou ’n geskenk was van die Moedergemeente op Stellenbosch. Toe hulle die kerk vergroot het en ’n nuwe kansel wou kry wat by die Gotiese argitektuur pas, is die ou kansel aangegee.
Teen die muur van die konsistorie is daar ou koerantberigte wat dele van dié geskiedenis oorvertel. Ook van hoe die Rynse gemeente hulle kerkgebou beskikbaar gestel het vir gebruik toe Stellenbosch se kerk in die middel 1800’s herbou is.
Teenstellende gedagtes: enersyds die mooi manier waarop gemeentes mekaar help, andersyds die haglike verbod op die doop.
Dit is van die dinge wat deur my kop maal toe ons verder stap, deur Stellenbosch se besige oggendverkeer na die Moederkerk toe. Nog ’n kerk met ’n lang, lang geskiedenis.
Stellenbosch se Moederkerk is die tweede oudste gemeente in die land – en die een met die oudste kerkgebou.
Dr Hannes Koornhof vertel vir ons van die gemeente se eerste kerkgebou wat afgebrand het, van die nuwe kerk wat opgerig is en die verbouings later, van die indrukwekkende kansel in sy Gotiese styl, van die verskillende vensters wat met hulle gekleurde glas verskillende temas en tonele uitbeeld.
Die kerkgebou is ’n gewilde bestemming vir toeriste, vertel Koornhof. Die een ding waaroor die toeriste uit Europa egter verstom staan, is dat daar Sondae honderde mense in die kerk sit om die erediens by te woon. Anders as in Europa waar kerkgeboue dikwels weinig meer is as besienswaardighede, is dit die tuiste van ’n lewende gemeente.
Dit word vir ons bevestig aan die hand van die sakramente. Eers die vertelling oor hoe die gemeente die doop lewendig hou in hulle lidmate se gemoed (lees ds Marié Britz se rubriek).
Dan word daar vir die klein groepie pelgrims nagmaal bedien. Aan die begin van ons pelgrimstog, van die fisiese en geestelike reis, herinner die brood en die wyn ons aan die liggaam en die bloed, aan die diepste wortels van ons geloof.
Kan ’n pelgrimstog beter begin?
Ons stap van die Moederkerk af uit Stellenbosch uit, deur Idasvallei, oor Helshoogte, terwyl die Kaapse winterreën oor ons uitsak. Halfpad word ons warm in ’n restaurant waar die kaggelvure brand.
Koue en warmte. Dit is die soort belewenisse wat ’n pelgrimstog maak. Ons stap vandag tot by Pniël.
’n Innerlike reis
Die Pelgrimstog van Hoop is ’n staptog wat gaan oor meer as net stap in die mooi omgewing van die Kaap van Goeie Hoop. Dit gaan ook oor ’n innerlike reis wat die stapper onderneem langs die spore van God se genade, by verskeie ou kerke en sendingstasies langs.

Die binnekant van die Rynse Kerk op die Braak in Stellenbosch waar die pelgrimstog begin.
Dit is ’n reis wat jou wegneem uit die harlaboerla van die alledaagse bestaan en vir jou stilte bring. Stilte in jou ore, maar veral stilte in jou gemoed. Dit stroop jou van die baie dinge waarmee ’n mens so dikwels besig is en bring jou ten minste vir die duur van die staptog na eenvoud toe.
Dit alles skep die geleentheid om naby aan God te kom. Op dié manier word die pelgrimstog ’n geestelike dissipline wat, soos ’n retraite, vir ’n gelowige ’n kans bied om as ’t ware asem te skep, hoop te skep.
Meer besonderhede oor die pelgrimstog is beskikbaar by pelgrim@sun.ac.za of by 021 808 3382. Kyk ook na die facebookblad Pelgrimstog van Hoop.