Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Soos seker baie ander gemeentes, het ons as leiers in die laaste paar jaar gereeld gesprekke gehad oor die doop. Ons het ure-lange gesprekke gevoer met lidmate wat die kinderdoop bevraagteken en soms ook deur charismatiese groepe op Stellenbosch se leringe verwar word.
Ons het besef dat die verwarring wat soms by mense ontstaan oor die betekenis van die doop op niemand anders se rekening geplaas kan word as net ons eie nie. Dit is ons verantwoordelikheid om die doop só te verkondig en deel te maak van mense se daaglikse lewe dat hulle die waarde en betekenis daarvan weer nuut kan ontdek.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/08/Marie-Britz1-1.jpg” caption=”Ds Marié Brits is predikant van die NG gemeente Stellenbosch.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]
Die volgende praktyke het hieruit gevloei:
Ons het maandeliks doopgesprekke met voornemende doopouers waar ons saam met ouers gesels oor die betekenis van die doop en hulle as ouers se verantwoordelikheid in hierdie verbondsbelofte. Ons lê veral ook klem daarop dat die voorbeeld van die ouers se eie daaglikse leef met God die belangrikste getuienis teenoor hulle kinders is.
Tydens ons maandelikse doopgeleentheid in ons gemeente gee ons vir elke ouerpaar en dopeling ’n Bybel en ’n kers. Ons moedig die ouers aan om elke jaar saam met hulle kind sy/haar doopdag te vier. Tydens die viering steek hulle die doopkers aan en herinner hulle die kinders en mekaar daaraan dat hulle aan God behoort, dat God die kind op die Naam geroep het en ken, en dat niks ons van hierdie liefde van God kan skei nie.
Ons nooi gemeentelede uit om hulle doopdatums by die kerkkantoor te kry en so seker te maak dat hulle hul eie doop jaarliks vier. Ons skep ook gereeld geleentheid tydens eredienste waar lidmate wat in die bepaalde maand hulle doopdag vier dan ’n klein herinneringskers kan kom aansteek as simboliese herinnering van Christus se lig en liefde in hul lewe. Ons hoor die mooiste stories van gesinne en individue wat so hulle doop vier. Ek is self ’n rukkie gelede deur ’n student genooi vir koffie en koek om haar doopdag te vier – wat ’n voorreg!
Een van die mooiste konkrete verhale oor doopviering is van ’n dogter wat hier op Stellenbosch studeer het en een aand in trane haar pa bel toe haar verhouding van twee jaar verbreek is. Haar pa was egter 1 000 km ver op ’n plaas. Al wat hy kon doen, was om haar te help huil deur só hartseer saam met haar te raak dat sy later begin voel het sy moet hóm nou troos. En haar troos was: “Toemaar pa, ek het mos my doopkers hier. Ek gaan nou teruggaan na my kamer en dit aansteek en onthou aan Wie ek behoort.”
Wanneer ons tieners belydenis van geloof aflê, volg ons ’n ritueel waar hulle saam met hulle ouers na vore kom en waar die jongmense hulle hande in die doopvont steek en herinner word dat hulle gedoop is in die Naam van die drie-enige God. Daarna gaan die ouers sit en kry die jongmense geleentheid om hardop hul geloof voor die gemeente te bely as ’n toeëiening van hulle doop en God se liefde en genade in hulle lewe.
Ons het ook doopbakke laat inbou by elk van die deure van ons twee kerkgeboue: Moederkerk en Kruiskerk (die ou Studentekerkgebou). By die doopbakke staan die volgende: “Ek is gedoop” en Kolossense 3:9-10. In lyn met die tradisie in veral Anglikaanse kerke, word die doop daarmee aangedui as die identiteit waarmee ek nie net in die kerk ingaan (deel vorm van ’n geloofsgemeenskap) nie, maar ook waarmee ek uitgaan – om as gedoopte in hierdie wêreld te gaan leef. Dít is my diepste identiteit, nie wie ek is nie, maar wie s’n ek is. Dat ek aan God behoort.
Ons moedig lidmate dan aan om bloot hulle hande in doopbakke by die deure te steek wanneer hulle inkom of met die uitgaan. Aanvanklik was dit vir mense vreemd, maar nou, na ongeveer ses jaar, is dit verblydend om te sien hoe oud en jonk op hulle eie soms vir ’n oomblik stop en hulle hande in die doopbak steek.
Buite ons kerkgebou staan ook ’n doopbak in die tuin. Die niksvermoedende toeris mag dink dis ’n voëlbad waar die Stellenbosse duiwe hulleself kom bad. Maar daar was ons juis saam – ek en die Stellenbosse duif. Daar is Christus die hoof oor sy skepping, die Een wat alles in almal sal wees. Daar is die hele aarde vol van die volheid van die Here.
Ons ervaring is dat hierdie praktyke ons as gemeente help om as gedoopte kinders van God te leef. In ’n wêreld waarin ons dikwels verward raak en nie elke dag weet wie ons is nie, help die doop ons elke Sondag as gemeente om te onthou Wie s’n ons is.

