Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Ds Herman Burger van Bellville antwoord op Pieter Fourie (Kerkbode, 5 Augustus):
Baie dankie vir jou brief en beplande besoek aan die gemeente. Ek is jammer dat jy die kerkgebou met toe deure gevind het. Hoewel daar redes is, sal jou brief ons weer daaroor laat besin.
Ek reageer op jou verwysing na die woord “missionaal” en die gemeenskap rondom ons.
Ek woon langs die kerkgebou en beleef die gemeenskap elke dag en nag. Dwelmtransaksies en dwelmgebruik in die straat en op die kerk se stoepe is amper daaglikse gebeure. Dis veral die heroïenverslaafdes wat jy dalk sien by verkeersligte naby Tygervallei, wat hier slaap.
Prostitusie ook. Die grasperk is gewild onder sekswerkers. Die muurtjie rondom die kerk is die beste toiletdeur en die koster weet al wat wag soggens.
Missionaal, vra jy?
Ek kan jou ure besig hou met verhale van verslaafdes. Ons ken hulle – by die naam. En hulle stories. Daar is soveel ure, energie, geld en tyd al ingesit in die straatmense. Kos, gebed, liefde en ja – van hulle is ingeboek by Stikland en ander rehabs. Die ekstra myl is verskeie kere al gestap. Oop deur – verseker, gereeld was en is daar van hulle in ons dienste.
Hoekom toe deure? Een “shot” heroïen kos seker R40. Hulle sal jou in die oë kyk en steel daarvoor – selfs in die kerk se voorportaal. Ons het op die harde manier geleer.
Die buitelanders uit Afrika – daar is ’n Christen-gemeente in daardie gebou. Ons huisves die Etiopiese Kerk se eredienste ná ons dienste. Hulle dominee het ’n passie vir die Moslems in Bellville. ’n Oop deur vir Afrika.
Pieter – ek hoop jy kom besoek ons weer. Hier in Bellville-Moeder is die Here se genade groot. Ons het nie al die antwoorde nie.
Ons wil glo ons leef missionaal, want ons weet die drie-enige God is betrokke in hierdie stukkende gemeenskap – ons behoort net deel te word van waar Hy reeds besig is. Dis ons roeping.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
