Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Nelis Janse van Rensburg aan die woord by die Algemene Sinode van 2015. Foto: Neels Jackson

Op soek na ’n weg om saam kerk te wees

’n Buitengewone Algemene Sinode word van 7 tot 10 November gehou waar die saak van verhoudings tussen mense van dieselfde geslag opnuut bespreek sal word. DS NELIS JANSE VAN RENSBURG, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen, gee perspektief.


Die moderamen het besluit om ’n buitengewone Algemene Sinode te hou oor die besluit van 2015 oor selfdegeslagverhoudings.

Dit is teen hierdie tyd duidelik dat die kerk diep verdeeld is oor die teologiese regverdigbaarheid van die 2015-besluit. Ek ontvang briewe oor die aangeleent­heid van mense wat nie genoeg hulle waardering kan uitspreek vir die ruimte wat die kerk nou vir gay perso­ne bied nie. Ek ontvang egter ook briewe van diegene wat met geweldige ontsteltenis te kenne gee dat hulle hulle distansieer van die kerk se besluite oor die aange­leentheid.

Die hele kwessie oor die hantering van die besware teen die Algemene Sinode se besluit het veroorsaak dat die wesenlike debat na die 2015-sinode nie vol­doen­de gevoer is nie.

Die appèlproses gaan nou voort en word deur die appèlkommissie afgehandel. Hulle hanteer die tegniese appèlle teen die 2015-sinode se werkswyse. Die be­sware en appèlle op grond van teologiese oorwegings word verwys na die buitengewone algemene si­no­de.

Daar het oor die afgelope maande by my ’n paar perspektiewe al helderder geword:

1. Die hele wêreld is verdeeld oor die kwessie van homoseksualiteit.

2. Dit is dus nie die NG Kerk se Algemene Sinode wat die verdeeldheid veroorsaak het nie. Bykans elke mens het ’n opinie oor homoseksualiteit en min mense is nie seker dat hulle doodreg is nie.

3. Die noodsaaklikheid om aan die gesprek deel te neem, berus op die werklikheid dat duisende gay dooplidmate van die kerk en hulle families dikwels trauma beleef oor die standpunte van die samelewing en die kerk.

Hulle het by die doop die volle toesegging van God se trou en guns ontvang, maar oordeel dat die kerk nie die volheid van hulle menswees dienooreenkomstig wil erken nie.

Daarom, so meen hulle, word hulle effektief uitge­sluit van die kerk of vind hulle dit moeilik om in die kerk tuis te kom. Hulle sê ook dat dit vir hulle groot pyn veroorsaak en hulle dikwels nie net vervreem van die kerk nie, maar ook van God. Met so ’n bewering kan dit nie anders dat ’n verantwoordelike kerk self­ondersoekend dink nie.

4. Uit die debat in die NG Kerk leer ons dat daar twee duidelike teenoorstaande standpunte is wat beide ernstig probeer rekening hou met die eise van die Bybel.

Daar is diegene wat meen dat al die Ou-Testamentiese wette en reëls, selfs dié wat nog in die Nuwe Testament kop uitsteek as oorblyfsels van die Joodse skrywers se godsdiens-kulturele agtergrond, soos die hoe­­de in die kerk en die eet van offervleis, deur Christus se leer en voorbeeld nuwe betekenis kry.

Hulle beweer dat daar reeds in die Ou Testament ’n beweging was van groterwordende insluiting en dat Christus hierop voortbou. Jesus definieer die grense van God se genade al wyer en wyer. Hy sluit al meer mense in.

Aan gelowiges wat homoseksueel is en met hulle volle menswees, insluitende hulle seksualiteit, God wil dien, moet dus ruimte gegee word. Dit is wat die Bybel leer, so meen hulle.

Hierteenoor staan die oortuiging dat die Bybel konsekwent negatief oordeel oor alle vorme van homoseksualiteit en homoseksuele gedrag. Dit sluit in die erkende praktyk van homoseksuele verbintenisse van die Nuwe-Testamentiese tyd en nie net homoseksuele verkragting en misbruike nie.

Die afwysende lyn loop regdeur die Bybel. In Paulus se denke oor die aangeleentheid speel sy Joodse agtergrond inderdaad ’n rol. Hy werk immers steeds met ’n Joods-Christelike etos. Soms bring Jesus radikale veranderinge of verruiming aan aan die Joodse beskouinge oor kwessies, maar nêrens in die Bybel is daar ’n “reg­stelling” oor hierdie aangeleentheid soos in die geval van Paulus se opmerkings in Galasiërs 3:28 oor mans en vroue, Jode en Grieke, slawe en vry mense nie.

Die Bybel het konsekwent niks goeds te sê oor homoseksualitiet nie. Daarom moet die 2015-standpunt van die sinode afgewys word.

Beide die groepe beroep hulle dus op die Bybel met sterk argumente dat hulle absoluut reg is.

5. Dit is vir my baie duidelik dat die sinode nie hierdie meningsverskil gaan oplos nie.

Na die sinode gaan die kerk en die samelewing steeds verdeeld wees. Mense sal nie sommer wegstap van hulle oortuigings nie.

Maar ons het nog oortuigings, onder andere dat die verbondenheid van gelowiges aan mekaar, juis ten spyte van verskille, ’n kragtige getuienis lewer.

Ons kan van die situasie ’n getalle-oorlog maak en kyk wie wen. Of ons kan verstaan dat niemand wen as die kerk in ’n anti- en pro-gay kerk verdeel nie. Ek hoor van niemand wat ten gunste is van skeuring nie.

Trouens, by die pas afgelope moderamenvergade­ring was die verbintenis tussen lede wat sterk van mekaar verskil om saam ’n pad te loop, opsigself ’n getuie­nis. Daarom sal ons nou almal moet dink aan maniere om mekaar te vind.

Ons sal in ’n styl van respek en luister met mekaar moet omgaan. Dit help nie om mekaar verder te ver­vreem deur etikette om mekaar se nek te hang nie. Almal dink hulle staan by die Woord en die evangelie. Daar is volhoubare egte argumente aan beide kant van die spektrum van menings.

6. Ek meen ons moet as vertrekpunt in ons beredene­ring oor homoseksualiteit die verbondsdoop neem.

Ek meen ook ons moet seker maak dat ons die huwelik as instelling tussen een man en een vrou ten alle koste beskerm.

Ek meen ook dat ons die menswaardigheid van gay-mense ten volle moet erken en nie hulle seksuali­teit as sodanig verdag maak nie.

Oor gay-verhoudings moet ons genuanseerd praat. Ons doen dit immers ook met hetroseksuele verhoudings. Eers dan kan ons oordeel waaroor mense saamstem en verskil. En ons moet eers daarna praat oor die kerk se verpligting, al dan nie, om hierdie verhoudings amptelik te legitimeer.

Op die oomblik is my afleiding uit die talle en talle mense wat met my hieroor praat dat baie van ons ui­ters ongenuanseerd is oor die verskille tussen ons.

Ek het volle vertroue in die lidmate en leiers van ons kerk dat ons uiteindelik ’n weg sal vind om met integriteit, met ons verskille, saam kerk te wees. Daar is immers net te veel wat ons aan mekaar bind.

Ds Nelis Janse van Rensburg is die voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top