Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘My hart offer ek aan U, …’

“My hart offer ek aan U, Here, onmiddellik en opreg …”

Dit is die woorde van Johannes Calvyn, een van die bekendste kerkhervormers. Sy bydrae was enorm en sy teologie het ’n groot invloed uitgeoefen op die NG Kerk.

Calvyn is op 10 Julie 1509 in Noyon, Frankryk gebore. Sy ouers het beplan dat hy ’n loopbaan in die kerk sou volg, maar Calvyn wou regte studeer.

Hy is op twaalf na Parys waar hy aan die Collége de la Marche begin studeer het. Hy was ’n ywerige student en daar word vertel hoe hy alles wat hy daagliks nuut geleer het, saans voordat hy gaan slaap het herhaal het, net om in die oggend die vorige dag se lesings weer te herhaal.

Calvyn het sy meestersgraad in 1526 in Parys behaal en daarna sy regstudie aan die universiteit in Orléans voortgesit. Twee jaar later is hy na Bourges om onder die leiding van ’n beroemde Italianer, Andreas Alciati, verder te studeer.

Dit is hier waar Calvyn in aanraking gekom het met ’n Duitse protestant, Melchior Wolmar. Wolmar het hom aan Grieks en aan die Griekse teks van die Nuwe Testament bekendgestel – iets waarvoor in Calvyn se woorde, “ek hom nie genoeg kon bedank nie”.

Hoewel ons nie weet waar en wanneer dit gebeur het nie, beskryf Calvyn sy bekering as ’n skielike gebeurtenis “soos wat met Paulus gebeur het”. In sy eie woorde: “God het my hart onderwerp en nederig gemaak.”

Dit het daartoe gelei dat Calvyn met die Katolieke Kerk gebreek het. Hy moes Parys verlaat en het in Basel gaan bly waar hy begin het om sy teologie te formuleer. In 1536 is die eerste uitgawe van Die Institusie van die Christelike geloof gepubliseer. Dit was ’n kort duidelike verdediging van die teologie van die Reformasie.

In 1537 is Calvyn op versoek van Guillaume Farel na Geneve om die Reformasie daar te help vestig. Daar het hy begin om ’n sigbaarder “Stad van God” in Europa te bou.

Sy lewe was egter nie net maanskyn en rose nie. Tydens sy laaste siekbed in 1564 het hy opgemerk: “Ek het hier ’n merkwaardige worstelstryd gevoer; snags is ek spottend deur 50 of 60 geweerskote voor my deur begroet. Jy kan dink hoe dit ’n arme geleerde soos ek sou verskrik.”

Ten spyte van hierdie gebeure, het Calvyn se teologie die gang van die geskiedenis van die kerk onherroeplik verander.

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top