Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Calvyn ’n vlugteling-sendeling

Op ons reis terug na die Reformasie, ontmoet ons vir Calvyn op 23 Augustus 1534 in Parys. Hy stap saam met mede-Katolieke in ’n optog waarin daar vir die slagoffers van die Swart Dood gebid word.

Sy lewe sou egter binne maande ’n totale omwenteling ondergaan. Na ’n lesing van sy vriend, Nicolaas Cop, rektor van die Universiteit van Parys, oor die Salig­sprekinge, moes Calvyn ook vir sy lewe vlug. Die ge­leerde van Parys het binne dae ’n protestantse vlug­te­ling-sendeling geword wat die evangelie in kelders en grotte verkondig het.

Calvyn vlug na Basel, maar op pad daarheen dwing ’n militêre padblokkade hom om met ’n ompad deur Geneve te reis. Dit is daar, waar Farel, hoof van die kerk in Geneve, by Calvyn pleit om aan te bly en te help met die uitbou van die gemeente.

Die eerste vyf maande het Calvyn, sonder inkomste, geen indruk op die gemeente gemaak nie. Sy deurbraak het egter gekom tydens ’n teologiese debat waar hy groot indruk gemaak het met sy teologiese kennis. Kort daarna is hy aangestel as een van die leraars van die gemeente met die opdrag om ’n geloofsbelydenis en ’n kerkorde vir die gemeenskap op te stel.

Sy kerkorde is in Januarie 1537 deur die stadsbe­stuur aanvaar, maar is onmiddellik met groot weerstand deur die inwoners begroet. Dit was veral die artikel wat bepaal het dat al die lidmate in die openbaar belydenis van hulle geloof moes doen, wat groot reaksie ontlok het. Daar was ook hewige reaksie teen ’n dissiplinêre proses vir morele oortredings. Weerstand teen Calvyn en Farel het so toegeneem dat hulle verban is.

Hierdie gebeure lei Calvyn na Strassburg, waar hy op uitnodiging van Martin Bucer in 1538 met ’n bedie­ning onder Franse vlugtelinge soos hyself begin het. Oorlewering wil dit hê dat Calvyn drie gelukkige jare in Strassburg deurgebring het. Die gemeente het hom heelhartig aanvaar, hy kon verder studeer, het aan teo­logiese debatte deelgeneem en het bevriend geraak met die Duitse hervormer, Melanchton.

In 1540 is Calvyn getroud met Idelette de Bure, die weduwee van Jan Stordeur, wat hom tot met haar dood in 1549 versorg het. Calvyn was nie gesond nie, en het onder andere gely aan kroniese hoofpyn, long- en maag­probleme, jig, artritis en slaaploosheid. Volgens Beza was dit slegs te danke aan Idelette se versorging dat Calvyn met sy bediening kon voortgaan.

Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top