Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Pastorale brief na Algemene Sinode

Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.


Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, het na afloop van die buitengewone Algemene Sinode die volgende pastorale brief aan leraars van die kerk geskryf:

Beste kollegas,

PASTORALE BRIEF

’n Buitengewone vergadering van die Algemene Sinode het van 7-10 November 2016 in Pretoria byeengekom. Die vergadering is deur die Moderamen byeengeroep in reaksie op meer as 130 appèlle, gravamina en beswaarskrifte ingebring teen die selfdegeslagbesluit van 2015.

’n Appèlliggaam het kort voor die vergadering appèlle teen die selfdegeslagbesluit op tegniese gronde gehandhaaf. Dit beteken dat die 2015-besluit kragtens die uitslag van die appèlproses verval het. Die Sinode moes dus opnuut beleid oor selfdegeslagverhoudinge formuleer.

Esegiël 47:1-12 was deur die week die sinode se fokusteks. In ’n duister tyd in die geskiedenis van Israel sien die profeet die hoopvolle gesig van ’n groeiende stroom lewende water wat uit die tempel vloei en genesing, herstel en lewe wat floreer. Die Dooie See word nuut gemaak en langs die stroom groei bome met genesing in hul blare en oorvloedige vrugte.

Hierdie teks het vir afgevaardigdes ’n hoopvolle droom ontsluit. God is aanwesig en bring lewe en hoop, ten spyte van mense se mislukking en ongehoorsaamheid. “Waar die stroom kom, sal alles lewe”, sê die teks. Esegiël 47 daag gelowiges uit om God se teenwoordigheid en genesing te sien, dit self te ontvang, en as kerk aan die dra daarvan na ander deel te neem.

Ruim geleentheid is aan die opstellers van beswaarskrifte en voorleggings gegee om die vergadering toe te spreek. Die omvang van protes oor die selfdegeslagbesluite van 2015 is helder belig. Daar was ook voorleggings van persone wat die kerk aangemoedig het om ruimte te skep vir haar homoseksuele lidmate.

Na aanleiding van die voorleggings, het die vergadering besluit om oor Skrifgesag, Skrifgebruik en die hantering van die Bybelse boodskap oor seksualiteit na te dink.

Tydens diepgaande gesprekke het ’n diep verbintenis aan die gesag van die Skrif geblyk. Die NG Kerk het uitstekende besluite oor Skrifgesag en Skrifgebruik, waarin die sinode steeds haar identiteit vind.

Oor die toepassing van die Bybel se gesagvolle boodskap het diversiteit in standpunte geblyk. Vir sommige is die Bybelse boodskap duidelik saamgevat in teksverse wat homoseksualiteit aanspreek. Vir ander is die tema van God se liefde in Jesus Christus deurslaggewend. Die lewe en leer van die vleesgeworde Woord dui vir hulle die koers aan. Die evangelie, God se omgee en insluiting van sondige mense in die kring van genade, gee die deurslag.

Die Algemene Sinode het na lang gesprek besluit die Bybelse boodskap ken net die huwelik as uitdrukking van menslike seksualiteit. Daarom word selfdegeslagverbintenisse nie langer erken nie. Die vergadering het deernis en omgee teenoor homoseksuele persone uitgespreek, en verskoning gevra vir kerklike optrede wat die gelykheid en waardigheid van mense in die gedrang gebring het.

Die vergadering het ook aandag aan die besluite van die appèlkommissie oor die uitbreiding van die belydenisbasis gegee. Dit handel oor die ruimte wat sinodes kry om die Belydenis van Belhar te aanvaar. Hoewel die appèlkommissie die appèlle afgewys het, wil die kerk eers verder oor verband nadink voordat die besluite implementeer word.

Besluite word aan gemeentes deurgegee sodra die notule goedgekeur is.

Saam in Sy diens

Gustav Claassen
Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top