Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Calvyn: Pastor van Genève

Die prentjie wat dikwels van Calvyn geteken word, is dié van ’n geharde juris en teoloog vir wie die orde van die kerk en dogma alles was. Calvyn het egter ook ’n ander kant gehad – die van pastor en prediker. Dit laat sommige historici opmerk dat die hart van Calvyn se werk in Genève die beste sigbaar word in sy bediening vanaf die preekstoel.

Dit was veral na sy terugkeer na Genève in 1541 dat prediking een van sy belangrikste weeklikse aktiwiteite geword het. Vir hom was prediking die uitleg van die Skrif. Aanvanklik het hy twee keer op ’n Sondag en een keer op drie ander dae van die week gepreek. Later het hy twee keer op ’n Sondag en elke dag van die week in alternatiewe weke gepreek.

Sy gebruik was om op Sondae uit die Nuwe Testament en gedurende die week uit die Ou Testament te preek. Soms het hy ook op ’n Sondagmiddag tyd afge­staan aan die uitleg van die Psalms.

Calvyn het sonder notas gepreek en het veral twee belangrike temas van ’n Christen se lewe beklemtoon: die redding van mense deur die genade van God en gelowiges se roeping tot ’n lewe van dankbaarheid.

Deur sy pen het hy onder meer ook die geestelike mentor en pastor vir die Protestantse adel en baie van die leiers van die Reformasie in ander lande geword. Hoewel sy humeur en opvlieënde geaardheid uit van sy briewe duidelik word, dui die pastorale begeleiding daarin op ’n meer sagmoedige pastor.

Dat Calvyn veral aan die einde van sy lewe met sy gesondheid gesukkel het, is bekend. Hy vertel self van sy stryd met tuberkulose, jig, ’n swak maag en nier­stene. Ten spyte van sy swak gesondheid, het hy onverpoosd gewerk.

Teen 1549 het hy reeds kommentare oor al die Pauliniese boeke van die Nuwe Testament geskryf en teen 1555 het hy kommentare oor al die ander boeke, uitsluitend Openbaring, voltooi. Te midde van ver­swakkende gesondheid het hy in 1558 finale wysigings aan die Latynse weergawe van sy groot passie, sy Institusie, aangebring.

Kort voor sy dood op 27 Mei 1564 skryf hy aan Farel: “Ek haal swaar asem en elke oomblik verwag ek dat dit dalk my laaste kan wees. Dit is genoeg dat ek leef en sterf vir Christus wie vir al sy volgelinge ’n wins in lewe en in sterwe is. Ek groet jou en al jou broers.”

Johannes Calvyn is volgens sy wens in ’n ongemerkte graf begrawe.

Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top