Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dawie Gouws van Paternoster skryf:
Die berig oor Jan-Jan Joubert (Kerkbode, 21 Oktober 2016) se optrede by die Noordelike Sinode het my oog gevang.
Die almagtige God gebruik die Bybel om homself te openbaar. Ek meen dat hierdie openbarings voldoende is dat ons die enigste ware God reg kan aanbid, dien en eer.
Ek is ook oortuig dat daar oneindig meer van God se wese en werke is wat die Bybel nie aan ons openbaar nie. Hieroor is 1 Korintiërs 2:11 baie duidelik – slegs die Gees ken God se diepste geheime.
Met die lees van Jan-Jan se standpunt dat ons nie vandag al ’n “oordeel oor die ondermaanse” moet uitspreek nie, maar dit moet los vir “eendag” het Jesus se gelykenis van die “koring en die onkruid op dieselfde land” in my gedagtes gekom.
Ons moenie nou al probeer om al die sondaars wat volhard in sonde (die onkruid soos deur ons self verklaar) eenkant toe te skuif nie. God sal dit met die “oestyd” doen. Vanweë ons onvolmaakte kennis mag ons dalk net koring ook uittrek!
Ons opdrag is om die “goeie nuus” te verkondig! Hoe gouer ons hierdie opdrag uitvoer hoe gouer kom die laaste dag. Die rower aan die kruis langs Jesus het op sy laaste dag tot inkeer gekom. Verseker kan en sal dit ook gebeur met van die “onkruid” wat baie kerkmense vandag al wil uittrek.
Soms wonder ek of Satan besig is om teologies moeilik-verklaarbare kwessies te gebruik om ons te pootjie sodat ons die primêre opdrag van die kerk afskeep. Ek lees en sien so baie van gemeentes en kerkgroepe wat so besig raak met die primêre dinge van kerkwees dat hulle nie tyd het nie of vergeet van al die “verskille”. Hierdie gemeentes groei en blom gewoonlik!
Mooi, Jan-Jan, kom ons wees kerk soos Jesus bedoel het en los die oordeel vir God.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
