Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Prof Alfred Brunsdon, namens die Departement Teologie, Noordwes-Universiteit (Mafikeng- kampus), skryf:
Die voorbladartikel “Bokang Modimo kan deel word van NG Kerk” van 4 November verwys.
In die artikel word vermeld dat leraars van Bokang Modimo “hulle eie teologiese opleiding by die Noordwes-Universiteit se Mafikeng-kampus” het. Voorts dat: “Vier dosente uit die NG Kerk doseer daar en Bokang Modimo het al hulle eie predikante daar gelegitimeer.”
Dié formulering wek verkeerdelik die indruk dat Bokang Modimo ’n formele ooreenkoms met die Departement Teologie van die Noordwes-Universiteit op die Mafikeng-kampus vir die opleiding van hulle predikante het. Ook dat die dosente kerklik beroepe is en dat die Departement Teologie by die legitimasie van afgestudeerde studente betrokke is.
Ons wil egter vriendelik daarop wys dat die Departement Teologie op die Mafikeng-kampus van die Noordwes-Universiteit geen formele ooreenkoms met enige denominasie vir kerkeie-predikantsopleiding het nie. Dit bied wel ’n verskeidenheid van grade in die teologie aan wat die hele spektrum teologiese opleiding van voorgraads (BTh) tot nagraads (PhD) insluit.
Studente uit ’n verskeidenheid denominasies deurloop hierdie opleiding. Die inhoud van dié grade is belyn met dié op die Potchefstroom-kampus en is gereformeerd in terme van die teologiese oriëntering. Die dosente verbonde aan die departement is ook nie kerklik-beroepe dosente nie. Alhoewel van hulle NGK lidmate is, is hulle gewone akademiese personeel. Ten slotte moet dit ook duidelik gestel word dat die departement geen inspraak in die legitimasie van studente het nie aangesien die legitimasie van afgestudeerdes van alle denominasies ’n kerklike funksie is.
Dit is wel so dat verskeie van die huidige predikante van Bokang Modimo hulle BTh-grade suksesvol op die Mafikeng-kampus voltooi het.
