Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die organiseerders en sprekers van die konferensie op George. Van links staan Drew de Kock (gemeentebestuurder, NG gemeente George), ds Francois Mulder (leraar, NG gemeente Blanco), dr André Pieterse (leraar, NG gemeente George), dr Fanie Cronjé (leraar, NG gemeente Riviera-Jakaranda), dr Chris van Wyk (leraar, NG gemeente Somerstrand), dr Roedolf Botha (Dialoog & e-kerk), prof Stephan Joubert (e-kerk), dr Steve van der Walt (leraar, NG gemeente George) en Jaco van Niekerk (lidmaat, NG gemeente George.) Voor sit Ferdi Boll, finalejaarstudent wat sy gemeentejaar in die NG gemeente Blanco gedoen het. Foto verskaf

George hou konferensie

Die NG gemeente George (die Moe­der­gemeente) het na aanleiding van die Al­ge­mene Sinode van 2015 se besluite oor self­de­ge­slagverhoudinge ’n konferensie gereël oor die Bybel as die Woord van God in mensetaal. Dit het kort voor die buitengewone Algemene Sinode plaasgevind en is deur sowat 70 mense bygewoon. Francois Mulder, leraar van die NG gemeente Blanco in George, vertel meer.


Almal is bewus van die olifant in die kerkgebou – die spanning in die kerk oor selfdegeslagverhoudings. Die doel van ons saamwees is egter ’n doelbewuste nuut-kyk na die bron van ons geloof: die VaderSeunGees wat geopenbaar word in sy Woord.

Vier sprekers van reg oor Suid-Afrika is ons gidse op hierdie opwindende reis deur ’n antieke versame­ling boeke saamgebind tussen twee swart buiteblaaie. Alhoewel elkeen van hierdie vier teoloë ’n formidabele CV het, beleef ek hulle tydens die konferensie as nederige, lewenslange studente van die Woord.

Dr Fanie Cronjé van NG gemeente Riviera-Jaka­randa is passievol oor Bybelse argeologie en alles oor die Ou Testament. Dr Roedolf Botha, van Dialoog en e-kerk, is ’n apologeet van formaat wat in dialoog bly met ’n skeptiese wêreld. Prof Stephan Joubert van ­e-kerk is ’n besondere woordkunstenaar wat al vir dekades ’n sagte en kreatiewe “gentleman-profeet” vir die NG Kerk is. Dr Chris van Wyk van NG gemeente So­mer­strand is ’n man van die Woord en Bybelskool-gu­ru, steeds verlief op die Outeur van die Woord en lewe.

Die konferensie skop af met Fanie Cronjé wie se kennis van die antieke wêreld konferensiegangers aan sy lippe laat hang. ’n Geskaterlag volg toe hy die Biblia Hebraica (Ou Testament in Hebreeus) vertoon en ver­klaar: “Sommige kollegas lees uit hom, ander gebruik hom as ’n deurstop.”

Later verklaar hy: “Die rugby is pateties op Saterdae, lees eerder Bybel en doen Bybelstudie.” Op ’n ern­sti­ger noot weerklink sy belydenis: “As jy met die Bybel besig is, besef jy dat die Bybel eintlik met jóú besig is.”

As iemand wat die sinvolheid van die evangelie in alledaagse taal probeer verduidelik, verklaar Roedolf Botha die vinnige ontstaan van die Nuwe Testament (binne 70 jaar het ons al die dokumente van die Nuwe Tes­tament) te midde van die eksplosiewe groei van die vroeë kerk vanuit die opstanding van Jesus Christus.

Dié opstanding is die radikale faktor wat die eks­ponensiële groei en transformerende effek van die eer­ste Christene in die eerste drie eeue na Christus verklaar. Die betroubaarheid van die Nuwe Testament lê veral in die feit dat dit in die tyd van ooggetuies geskryf is.

Chris van Wyk bemoedig en bevestig elkeen wat in die 21ste eeu worstel met die Bybel: “Dis ’n wonderlike voorreg om met die Woord te werk.” Vir hom is die Woord ’n huis om in te woon. Leraars daag hy uit: “Wys in die prediking hoe die teks deur jóú gegaan het. Onthou, God se lewende stem kom na ons in die Woord.”

In sy aanbieding pleit hy vir ’n verantwoordelike literêr-historiese lees van die Bybel, maar herinner ons: “Jesus word in die Nuwe Testament by uitnemend­heid as die hermeneut geteken, die een wat tot werklike verstaan begelei, wat harte en ook verstande oopmaak om te kan verstaan.”

Stephan Joubert herinner ons dat die kanon nie as oorlogskanon gebruik mag word nie. “Die Bybel is die waarheid, maar nie ’n wapen nie.” As tweesnydende swaard sny die Woord diep in ons eie hart, ontwapen ons en verander ons in reddingswerkers in ’n rampgevulde wêreld.

Roedolf Botha eggo hierdie sentiment as hy sê: “Die hart van die Christelike geloof is anti-imperialisties. Die kruis help ons om mag weg te gee. Dán doen die kerk goed.” Daarom gaan dit vir Bybelgehoorsame gelowiges nooit oor ’n aardse koninkryk van krag en mag nie.

Stephan Joubert waarsku dat ons nie geroep is om selfaangestelde advokate vir God, Bybelverdedigers en sondaar-aanklaers en -arresteerders te wees nie. Ons mag nie die Bybel mak maak deur dit voorspelbaar, veilig en vervelig te tem nie.

“Baie mense sê ook sola Scriptura, maar weet sola niks van die Bybel omdat hulle doodgewoon nie die Bybel lees nie. Jy mag ook nie die Bybel lees asof dit ’n Groot Verseboek is nie.”

Die sprekers som aan die einde hul aanbieding en vertrekpunt op:

Fanie Cronjé: “Ek pleit vir ’n kultuur-sensitiewe lees van die Bybel – sensitief vir die kultuur waar dit vandaan kom, sensitief vir die kultuur van vandag.”

Chris van Wyk: “Die Bybel se gesag lê in God self opgesluit. Ek wil dié woorde vir sinode beklemtoon: sin hodos. Dit is saam lees van die Bybel. Dis die sleutel vir ons eie oorlewing.”

Stephan Joubert: “God is nie ’n probleem om op te los nie. Hy’s die God van verhoudings om saam mee te leef.”

Roedolf Botha vertel die verhaal van Karl Barth wat in 1962 op ’n vraag die essensie van al sy werke opsom met die woorde: “Jesus loves me this I know, for the Bible tells me so.”

– DVD’s van die konferensie kan by ngmoeder@caw.org.za bestel word.

Interessante brokkies:

  • Die Ou Testament is geskryf in antieke Hebreeus, met die uitsondering van die volgende gedeeltes wat geskryf is in Aramees: Genesis 31:47, Jeremia 10:11, Esra 4:8 – 6:18 & 7:12-26 en Daniël 2:4 – 7:28.
  • Die Ou Testament wat die eerste Christene en daarna tot en met die Reformasie van die 16e eeu gelees het, was geskryf in ou-Grieks (die Septuagint) en ou-Latyn (die Vulgaat).
  • Die Ou Testament is vir die eerste maal as een boek gedruk in 1488.
  • Die Bybel is vir die eerste maal ingedeel in hoofstukke in 1227 nC.
  • Teksverse is vir die eerste maal in die Ou Testament ingesit in 1448 nC.
  • Teksverse is vir die eerste maal in die Nuwe Testament ingesit in 1555 nC.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top