Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Ek sit by die buitengewone Algemene Sinode in Pretoria. Dis bedompig, my water is op en die ou oom by die mikrofoon pleit dat ons die stem van die kerk moet hoor, dat ons getrou moet bly aan ons gereformeerdheid.
Dit laat my wonder; weet ons nog werklik wat dit beteken om gereformeerd te wees?
In my soeke na die ware betekenis van die woord wat male sonder tal by die sinode geuiter is, kom ek met behulp van google af op die bekende woorde: “Ecclesia reformata, semper reformanda”. Die kerk wat gereformeerd is, reformeer voortdurend.
Die kerk moet haarself voortdurend herondersoek, groei, reformeer, ten einde haar praktyke en leer suiwer te hou.
Om gereformeerd te wees, beteken ten diepste om terug te gaan na die bronne en om dan van daar af vorentoe te beweeg.
Ek kyk om my rond. Ek sien ’n see van grys en sintetiese haarkleur, en ek wonder, waar is my portuurgroep? Waar is die jong gereformeerdes wat saam met my die gryses van die kerk moet word? Waar is die toekoms van die kerk?
Verandering, nie bloot vir die doel van verandering nie, maar ter wille van die evangelie, is deel van ons tradisie, deel van ons kerk, deel van ons gereformeerdheid.
Daar was al vele reformasies in die kerk, sommige baie onlangs: apartheid, egskeiding, vroue in die amp. Elkeen van hulle het gepaard gegaan met worsteling, debatte oor hermeneutiese verskille en skriftuurlike interpretasies.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/12/Plantjie-JvR1.jpg” caption=”Ds Plantjie Janse van Rensburg is predikant van die NG gemeente Vosburg in Noord-Kaapland.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]
Dit was sekerlik nie maklik gewees nie, maar soli Deo gloria, die kerk was getrou aan die evangelie en aan haarself en sy het gereformeer.
Ek wonder by myself, gaan ons vandag, in 2016 dalk die streep trek? Gaan ons sê tot hier toe en nie verder nie, ons is nou klaar met reformasie?
Ek wonder wat my portuurgroep sou sê as hulle hier was? Sou hulle ook wou pleit dat die kerk moet verander deur sola fide, saam met ons reformeer ter wille van sola gratia, dat ons sola Scriptura moet herondersoek? Alles ter wille van die evangelie van solus Christus.
In ’n see van rooi kaarte kom ’n nuwe vraag by my op: Was dit net ek en die afwesiges wat die stem van die kerk kon hoor, hoe sy uitroep: semper reformanda!
▶ Ds Plantjie Janse van Rensburg is predikant van die NG gemeente Vosburg in Noord-Kaapland.
