Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Ds Petrus Moolman (emeritus) skryf:
Twee sake rondom die 2016 se Algemene Sinode se besluite oor selfdegeslagverhoudings interesseer my – spesifiek met betrekking tot die praktiese implementering daarvan:
“In die hele NG Kerk met sy 1 200 gemeentes is daar nie een tugsaak teen ’n gay lidmaat in ’n verhouding nie. In die NG Kerk is daar duisende gay lidmate, aktiewe lidmate, wat in verhoudings is.”
Só sê ds Nelis Janse van Rensburg op 20 November 2016 aan Netwerk 24. Indien dit waar is (en ons almal weet die voorsitter is reg), wat gaan die NG Kerk maak met sy besluit wat lui: “ … 4.4 herbevestig dat die huwelik deur God ingestel is as ’n heilige en lewenslange verbintenis tussen een man een vrou en dat enige seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele verbintenis nie aan Christelike riglyne voldoen nie”?
Ek wil voorspel dat die kerk die status quo gaan handhaaf en nie met die tug teen sodanige lidmate in selfdegeslag-verbintenisse gaan optree nie. Die implikasie is dat die kerk sy eie besluite sal negeer en sy eie besluit bespotlik maak.
Baie in die kerk voel bloot beter agv die AS besluit oor ’n saak wat gemeentes nog nooit wou aanspreek nie en in praktyk lankal mee vrede gemaak het. Nou kan ongelukkiges minstens sê “die kerk sê so …” of kry die Bybel eers gesag as die Algemene Sinode besluit het? Ek was geleer dat die ware kerk aan onder meer die vereiste van die “suiwer toepassing van die tug” moet voldoen. Tans is dit net van toepassing op leraars.
Dit bring ons by die volgende vraag:
“…4.6 besluit dat dieselfde Christelik-etiese standaarde met betrekking tot leer en lewe geld vir die legitimasie en ordening van alle persone, ongeag van seksuele oriëntasie.”
Hierdie besluit is myns insiens onteenseglik gemik teen gay kandidate wat aanmeld vir legitimasie en ordening. Sou ons dit egter dan eerlik en konsekwent wil toepas, vang ’n artikel in Tydskrif Vir Hervormde Teologie (Jaargang 2, Nommer 4, November 2014, pp85-87) die oog.
Daarin skryf Steenekamp breedvoerig oor die vraag of toelatingskommissies dieselfde etiese standaarde gaan toepas op alle kandidate, ongeag hulle seksuele oriëntering. Sou dit gebeur sal hulle konsekwent ook moet ingaan op almal se etiese en seksuele lewe deur bv vraelyste en verklarings te kry van “vorige nooiens (en kêrels) … wanneer ons vra na ’n persoon se geskiktheid om ampsdraer in die kerk van die Here te wees? Daartoe is ons egter nie bereid nie – waarskynlik omdat heelwat van ons geraamtes in die kas het.”
Steenekamp kom tot die konklusie dat ons liefs maar moet konsentreer op kandidate se innerlike roeping, hulle akademiese vermoë en die uitslag van die proponentseksamen as die basis van toelating en laat die kansel uiteindelik oordeel. (Hoeveel lidmate en ampsdraers is daarvan bewus dat die Hervormde Kerk onlangs sonder verwysing en bohaai besluit het om gay persone ten volle tot alle ampte toe te laat, met inagneming van dieselfde Bybel en Belydenisskrifte?)
‘n Mens wonder maar net hoe die wêreld buite die kerk moet sukkel om die kerk te begryp.
