Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Adriaan van Tonder skryf:
Met verwysing na die APK se kritiek op die NG Kerk.
Ek lees u brief en vir die eerste keer besef ek hoe ver ons as kerke van die Reformasie al uit mekaar beweeg het. Ek is nie pro-gay nie, ek is ook nie anti-gay nie. Ek wil egter staan by die beginsels van die Reformasie soos vervat in die sola’s, so verduur my asseblief en as u wil, verduidelik vir my die volgende:
U stel dat “die waarheid van die evangelie” nie meer seker is nie. Ek is nie seker hoe u evangelie omskryf nie, maar vanuit ons Gereformeerde leer verstaan ek Evangelie (sic) as “So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gestuur het sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe sal hê” – dis die sekerheid van die Evangelie waarop ek verstaan ons sola’s gebou is. Die genitiefvorm “van die evangelie” blyk dus duidelik nie ’n genitivus possesivus te wees nie maar eerder ‘n genitivus partitivus. Met ander woorde die randsake verwant aan die evangelie eerder as die kernsake van die evangelie.
Hoe moet ek u opmerking “in belydenis lynreg teenoor kernsake” verstaan? Wat is die kernsaak waarteen die NG Kerk direk staan? Christus, Geloof, Skrif, Genade of Gods eer? Uit u skrywe wil dit voorkom asof gender of seksuele oriëntasie ook ’n kernsaak is? Hoe rym dit met ons Gereformeerde leer?
Net vir u kennisname – ek ken gay mense in die APK, en ja, hulle onderdruk dit omdat hulle die APK se standpunt oor ons landgenote steun, en nee, hulle is nie selibaat nie.
Ek wonder maar net, wie is Gereformeerd in dié tyd?
