Hoe gaan dit met Moeder Aarde? Inheemse bos is vergelykbaar met longe wat suurstof beskikbaar stel aan die liggaam. Woude help om lewe in alle vorms moontlik te maak deur die omskakeling van koolsuurgas in suurstof.
Diagnose baar egter diepe kommer: Lugbesoedeling neem bestendig toe, terwyl die “longe” meedoënloos beskadig word. Jaarliks word 3,7 miljoen hektaar inheemse bos in Afrika uitgekap vir timmerhout en landerye. Woude beslaan slegs 0,3% van Suid-Afrika se grondoppervlakte. Wêreldwyd word een boom aangeplant vir elke 10 wat afgekap word. Teen dié koers is alle tropiese woude teen 2035 uitgeroei.
Is daar iets wat ons vir die pasiënt kan doen? Ja tog, plant ’n inheemse boom by elke geleentheid en op elke moontlike plek, beskerm die inheemse bos in jou omgewing met mening en besnoei vindingryk op jou energieverbruik. Wat van groen krag (wind, son) vir jou huis of besigheid?
Ons is dit aan haar verskuldig.
