Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Leer jy hulle nog, dominee?


Hoeveel lering vind daar nog in gemeentes plaas? Hoe goed ken lidmate die Bybel?

My ervaring is dat ouer lidmate nog hulle Bybel ken, maar dat veral jonger lidmate skrikwekkend min van die Bybel weet – en dit terwyl onderrig en le­ring wesenlik deel van ons gereformeerde erfenis is.

Hoe belangrik hierdie saak vir Luther was, blyk uit ’n brief wat hy aan die leraars van sy tyd geskryf het: “Hoe sal julle voor Christus antwoord oor die feit dat julle julle lidmate so skandalig verwaarloos het? Mag julle God se straf hiervoor ontkom! Julle het lidmate ver­bied om aan die nagmaaltafel aan te sit en hulle ver­oordeel omdat hulle wêreldse wette nie nakom nie, maar julle het versuim om hulle die Ons Vader, die Ge­­loofsbelydenis, die Tien Gebooie of ’n enkele deel van die Bybel te leer! Ek pleit by julle, my geliefde ­broers, wat leraars en predikante is, dat julle roeping ernstig sal neem, dat julle die mense wat aan julle toe­vertrou is sal jammer kry en dat julle hulle sal leer, ­ver­al hulle wat nog jonk is!”

Alhoewel prediking vir Luther ’n wyse van lering was, het hy gou besef dat die totale onkunde van lidmate oor die Bybel en die leer van die reformasie die kerk uitgedaag het om meer van lering te maak. Dit was veral die dood van Magdalena, Luther se 14-jarige dogter, wat hom diep onder die indruk gebring het van hoe belangrik die onderrig van veral kinders was.

Sy leer dat mense uit genade gered word enkel en alleen omdat hulle glo het die illusie by baie lidmate en predikante geskep dat geloof alleen genoeg was en dat kennis van die Bybel en die leer van die kerk glad nie meer belangrik was nie. Onderrig en lering was daarom gou nie meer opsioneel nie. Dit het ’n imperatief vir elke gereformeerde gemeente geword! Luther se Klein Kategismus was die voorgeskrewe werk!

In die jaar wat ons 500 jaar van gereformeerd-wees herdenk moet die vraag daarom reguit gevra word: Hoe­veel lering en onderrig vind daar regtig nog in die gemeente plaas waarvan jy die leraar is, dominee? Ken oud en jonk hulle Bybel en weet hulle wat dit beteken om gereformeerde gelowiges te wees? As jy ’n bietjie ouer is onthou jy dalk nog die dae van Bybelkorkursusse, en kategeseboeke waarin die Heidelbergse Kategismus geleer is en van kategismusprediking … Miskien het ons dit toe oordoen en spreekwoordelik die baba met die badwater uitgegooi – en nou? Wat doen jy nou?

Die Reformasie en ons roeping daag ons uit om oud en jonk weer die Bybel te begin léér.

Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.