Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Ds Andries NE Louw (emeritus) skryf:
Die resensie van Frits Gaum oor Jan du Rand en Marius Nel se boek Homoseksualiteit en die Bybel is teleurstellend. Miskien was dit naïef om anders te verwag. Dit is immers algemene kennis dat Gaum een van die prominente pro-gay teoloë en aktiviste is vir die goedkeuring van selfdegeslagverhoudinge van liefde en trou asook van gay huwelike en die legitimasie van predikante in sulke huwelike in die NG Kerk.
’n Mens sou nietemin verwag het dat die resensent darem ’n poging sou aanwend om ’n gebalanseerde evaluering van die betrokke boek te doen.
So laat hy na om in sy resensie selfs ’n oorsig van die boek se indeling en hoofstukke te gee en ignoreer hy gewoon die breë spektrum van subtemas wat in die boek behandel word, byvoorbeeld die puik inleiding tot ’n verantwoordelike hermeneutiek, die deeglike historiese kontekstualisering, die aandag aan seksualiteit in die Grieks-Romeinse wêreld in teenstelling met Israel, en die deeglike eksegese van die relevante Skrifgedeeltes deur Du Rand en Nel.
Gaum se poging om ’n teenargument teen Du Rand op te bou deur ’n aanhaling van prof Andrie du Toit ten opsigte van Paulus se verwysing na selfdegeslagseks in Romeine 1:27-28 as een van die “netelige Skrifgedeeltes” (sic) raak in sekere sin die kern van die debat, maar dit misluk klaaglik omdat Du Rand swak en onvolledig aangehaal word en vanweë die argumente van Du Toit “dat sulke persone nie teen hulle natuur handel wanneer hulle aangetrokke voel tot persone van dieselfde geslag nie …” Dit bots duidelik met die feit dat Paulus met die term “teen die natuur” (Grieks “para fusin”) juis verwys na ’n universele waarheid en geskape werklikheid, soos Du Rand ook duidelik aantoon. Om die woord “hulle“ in te voeg of te veronderstel is duidelik niks anders as inlegkunde nie.
As Gaum werklik Du Rand se eksegese van Romeine 1:18-28 aandagtig gelees het kon hy dalk oortuig geword het, in plaas daarvan om Du Toit se tweede foutiewe argument na te praat, naamlik dat “Paulus – soos die mense van sy tyd – nie bewus was van die werklikheid van ’n ‘anderse’ voorgeboortelik-gefikseerde seksuele oriëntasie nie”. Die Griekse wysgeer Aristoteles het dan reeds drie eeue voor Christus die onderskeid gemaak tussen verskillende oorsake van homoseksualiteit naamlik 1) dit wat hy as ’n “natuurlike disposisie” beskryf het, 2) “gewoonte soos gevestig deur seksuele molestering vanaf die kinderjare”.
Die stelling “Hierdie werklikheid is eers in die jongste tyd wetenskaplik bewys” is buitendien ook onwaar. Die werklikheid is dat geen deurslaggewende wetenskaplike bewyse van genetiese of biologiese oorsaaklikheid tot nog toe gevind is nie. Inteendeel dui navorsing al meer oortuigend daarop dat “omgewingsfaktore” die deurslaggewende rol speel. Die holruggeryde metafoor van die blou oë waarmee jy nie mag kyk nie is dus ’n misplaaste en afgesaagde cliché.
Gaum se resensie is volgens my nie ’n billike beoordeling van die boek se waarde nie. Die indruk word eerder geskep dat Gaum dit bloot as ’n gerieflike platform gebruik het vir die propagering van sy bekende pro-gay standpunt. Dit is na my mening betreurenswaardig.
