Wat het die Reformasie en “Pinkster” soos wat dit in die NG Kerk gevier word, met mekaar in gemeen? Die gemene deler is herlewing! Net soos wat die Reformasie onder leiding van Martin Luther 500 jaar gelede die eerste groot herlewing in die Christelike kerk ingelei het, het die Pinkstergebeure van 1861 tot die eerste groot herlewing in die NG Kerk gelei.
Op 19 Mei 1861 het ’n gebeurtenis in die Paarl afgespeel wat die geskiedenis van die NG Kerk onherroeplik verander het. Gedurende die 10 dae van Hemelvaart ná Pinkstersondag het verskeie gebedsgroepe in die gemeente Paarl om herlewing gebid.
Ds GWA van der Lingen het op die Pinkstersondag uit Lukas 24:49 oor die gawes van die Gees gepreek en ernstig gebid dat die belofte tog vervul moes word. Tydens die middagbiduur het hy ’n visioen van Christus gesien wat hy as ’n openbaring van God beleef het.
Hierdie gebeure het tot ’n grootskaalse herlewing in die gemeente gelei en daar is besluit om Pinkster jaarliks op dieselfde wyse te vier. Die nuus van die herlewing het vinnig versprei en ander gemeentes het in die voetspore van die Paarlgemeente gevolg. Die gebruik het gaandeweg gegroei tot wat algemeen in die NG Kerk as “Pinksterdienste” of “Pinksterbidure” bekendgeword het.
Hierdie herlewings het ’n groot bydrae gelewer tot die evangeliese karakter van die kerk en het ’n aktiewe gebedslewe opnuut beklemtoon. ’n Kragtige geloofslewe, en die aanvaarding van die sentrale geloofswaarhede van die Bybel het belangrike fokuspunte geword. In die prediking is klem gelê op persoonlike bekering en heiligmaking terwyl kerkmusiek ook duidelik die stempel van die herlewings gedra het.
Miskien weerspieël dit iets van wat Luther self ontdek het tydens sy “bekering”. Hy vertel self: “Toe ek verstaan dat God mense uit genade red enkel en alleen omdat hulle glo, het ek gevoel asof ek weer gebore word en ek het geglo dat ek die paradys deur wye oop deure binnegegaan het. Vir my het God se genade regtig die hekke van die paradys oopgemaak”.
Luther se ontdekking van God se genade het nie net vir homself die hekke van die paradys laat oopgaan nie. Die voortgaande reformasie onder sy leiding het dit vir duisende ander gelowiges ook gedoen net soos wat Pinkster dit vir duisende lidmate van die NGK gedoen het en steeds doen.
Daarom is “Pinkster” diep gewortel in die Reformasie!
▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.