Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Gereformeerde jeug laat hoor hulle stem

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Waar kry ek ‘n genadige God?

Dié vraag wat 500 jaar gelede die Reformasie ontketen het, skemer telkemale in die temas rakende sosiale, ekonomiese en ekologiese geregtigheid van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke se byeenkoms in Leipzig deur. Ek het die besonderse voorreg gehad om as ‘n afgevaardigde vanuit die perspektief van die jeug hierdie geleentheid te kon meemaak.

Die jeug se voorafvergadering het die tema “Buen Vivir”, of “The good life.” Dis aanvanklik voor-die-hand-liggend dat almal ‘n goeie lewe wil lei, maar dan word ons gekonfronteer met die term “Degrowth”. ‘n Bewustheid om te protesteer teen die oorbenutting van hulpbronne. Om te protesteer teen ongeregtigheid teen die ekologie. Om te protesteer teen gierigheid wat armes marginaliseer. Die globale krisis van magsbehebdheid oftewel “Empire” noop ons as gereformeerdes opnuut om God se stem in die wêreld te verteenwoordig.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2017/07/AnettePotgieter-3.jpg” caption=”Proponent Annette Potgieter is besig met haar doktorale studie in Berlyn.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]

 

 

 

Die goeie lewe beteken ‘n lewe wat strewe daarna om af te skaal met produksie en verbruik met die doelwit om deur middel van mededeelsaamheid ‘n samelewing te kweek wat meer gelukkig en gesond is. Dis ‘n lewe wat spruit uit die verstaan wat die beliggaming van Christus in die wêreld beteken. In ‘n paneelbespreking in die Gereformeerde kerk in Leipzig bespreek ons moontlike maniere om sosiale-ekologiese-ekonomiese probleme aan te spreek, onder andere alternatiewe saambly-gemeenskappe wat ingestel is om kennis en hulpbronne te deel, om krities op politieke sisteme te wees en nie net te protesteer as ‘n saak ons individuele behoeftes raak nie, maar om aan die geheel te dink en om nie kosse te benut wat skaars is in dele waar dit nie ekologies volop is nie.

As jeugafgevaardigdes stel ons ‘n dokument op vir die algemene vergadering waarin ons protesteer. Vanuit Afrika, Noord- en Suid-Amerika, Europa, Asië, Australië en die omliggende eilande, stem ons saam dat geregtigheid ‘n fokuspunt in die kerk behoort te wees. Uit een mond, roep ons vir ‘n kerk wat mense opvoed rakende die oordeelkundige benutting van hulpbronne, gesondheid, gesinsbeplanning en ‘n fokus op ekologie. Ons vra dat ‘n sosiale bewustheid gekweek word wat selfsugtige behoeftes vervang met ‘n bewustheid vir sosiale welstand. Ons vra vir ‘n hernieude soektog na identiteit en die de-kolonisasie van gekoloniseersde paradigmas. Ons vra dat die kerk vroue en mans gelyke kanse gun in die bediening en die stem van die jeug as ‘n gelyke vennoot in die kerk sien.

Die WGGK het ons protes gehoor met die aanstelling van vyf jeugdiges in leierskapsposisies waarvan een ‘n vise-president is. Die WGGK stuur ‘n sterk boodskap uit dat die Gereformeerde familie omgee vir die toekoms, vir geregtigheid en die uitlewing van die beliggaming van Jesus Christus.

Die seëngroet tydens die erediens in Wittenberg bly my by: “Tussen my en jou sal God altyd wees.”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top