Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Dit was nie net maanskyn en rose nie


Met die 500 jarige herdenking van die Reformasie kan dit maklik gebeur dat dié stuk geskiedenis so geromantiseer word, dat die slegte verhale wat onlosmaaklik deel daarvan was, nie ter sprake kom nie. Die Reformasie was nie net maanskyn en rose nie – inteendeel – dit het ook ’n baie donker kant gehad.

Die kleinboere-opstand wat tussen Junie 1524 en Julie 1525 plaasgevind het was van die eerste gebeure wat soos ’n donker wolk oor die Reformasie gehang het. Alhoewel die opstand die gevolg van smeulende teenstand teen die adel was, was die prediking van Luther maar veral dié van Müntzer, Pfeiffer en Karlstadt die spreekwoordelike vuurhoutjie in die kruitvat.

Luther het met sy werk, Die vryheid van ’n Christen, die grondwerk gedoen vir ’n gemeenskap waarin almal, ongeag hulle status, priesters was wat aanspreeklik was voor God. Toenemende geletterdheid onder gewone mense het daartoe gelei dat hulle self die evangelies begin lees het en verstaan het dat Christus aan die kant van die armes was.

Die kleinboere-opstand het op 23 Junie 1524 onder leiding van Hans Müller begin maar is veral verder gevoer deur Thomas Müntzer. Müntzer het homself as vegtende priester beskou wat in die voetspore van Gideon van die Ou Testament gevolg het. Hy het onder meer sy briewe onderteken as: “Thomas Münt­zer – met die swaard van Gideon”.

Die kleinboere-opstand het in ’n bloedbad geëindig toe meer as 5 000 boere in ’n geveg met George van Sakse en Philip van Hesse doodgemaak is. Müntzer het gevlug maar is op 27 Mei 1525 buite Mühlhausen gevang en onthoof. Meer as 100 000 mense het op die ou end in hierdie bloedige oorlog gesterf terwyl die ellende wat gevolg het as gevolg van die verwoesting van plase en landbougereedskap, onbeskryflik was.

Alhoewel Luther die kleinboere aanvanklik simpatiek gesind was, het hy na die dood van Müntzer en veral na beskuldigings van die Katolieke kerk gereageer in ’n traktaat met die titel: Teen die bendes gepeupel wat plunder en moor.

Daarin het hy onder meer geskryf dat enige persoon wat een van die opstandelinge doodmaak, God ’n guns bewys! Luther het duidelik besef dat die opstand van die boere nooit sou slaag nie. Hy moes hom daarvan distansieer of die gevaar loop dat die hele Reformasie daarmee saam sou misluk.

Die kleinboere-opstand was voorwaar ’n donker wolk wat bevestig dat die Reformasie nie net maanskyn en rose was nie!

Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top