Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Met die beplanning van die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington het ek baie gelees wat deur en oor Murray geskryf is. Ek het telkens gevoel ek verstaan myself en die kerk waaraan ek behoort, beter.
Vir baie is ons ’n enigma, ’n veelkantige kerk wat dikwels teenstrydighede huisves wat ongeken is in die gereformeerde wêreld.
Murray se vorming voorspel reeds hierdie veelkantigheid. Hy kom uit die Skotse Presbiteriaanse piëtisme. Hy het grootgeword in Graaff-Reinet, gestudeer in Skotland en Nederland voor hy sy bediening in Bloemfontein begin het.
Murray was ’n evangeliese prediker én ’n sosiaal betrokke burger en gemeenskapsontwikkelaar wat die menswaardigheid van vroue geag en ontwikkel het, lank voordat dit teologies beredeneer is in die hoofstroomdenke. Hy is diep gevorm deur die gereformeerde teologie, én diep beïnvloed deur die mistiek.
Murray was ’n teoloog én sou ook die opvoedkunde in Suid-Afrika diep beïnvloed as stigter van skole (hy was die eerste rektor van Grey Kollege in Bloemfontein); die Hugenote Seminarie vir Dames; die Hugenote Kollege en die Sendinginstituut.
Hy was ’n skrywer bekend vir sy geïntegreerde spiritualiteit én hy het oor die vermoë beskik om institute te ontwikkel en te lei. Hy was bekend vir sy eie eerlike worsteling as navolger van Christus, met temas soos nederigheid, gebed, roeping, vereniging met Christus en diens wat telkens na vore kom.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2017/09/MariasFrederick2.jpg” caption=”Dr Frederick Marais is assessor van die Wes-Kaapse Sinode.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]
Maar sy mistiek was van die nugtere soort, sê Kees Wijman en Pieter de Villiers. Daarom het sy binnekamer hom gemotiveer om leiding te neem. As kerkleier sou hy leiding neem ten opsigte van evangelisasie (hyself het etlike evangelisasietoere oorsee onderneem) en sending.
As teoloog sou hy stryd voer teen die rasionalisme van die neo-Calvinisme én die liberale teologie van sy tyd. Vanuit sy persoonlike ywer en die stigting van die Sendinginstituut (in 1877) het een van die grootste en mees invloedryke sendingbewegings in Afrika gevloei. Daar word bereken dat die kerke wat geplant is deur sendelinge wat deur hom beïnvloed is, vandag tot sewe miljoen lidmate tel!
En toe kom die verrassing in my leeswerk. Daar is ’n groeiende konsensus dat dit vanuit sý spesifieke teologiese denkstroom en vroomheidsdenke is wat die eerste teenstand teen die apartheidsteologie in die NG Kerk sou ontwikkel. In sy diep besorgdheid oor die verlossing van mense, was die saad vir die ommekeer van onreg en onmenswaardige politieke sisteme, skryf Retief Müller.
Retief volg die spoor van ’n opmerking van David Bosch dat die teenstand teen apartheid in die NG Kerk gebore is op die sendingveld waar evangeliese sendelinge in hulle kruiskulturele bedieninge die onreg van apartheid begin verwoord het.
Op ’n manier het die lees hiervan my gehelp om ’n sirkel te voltooi terug tot in die vreemde maar wonderlike veelkantige geestelike hart van die NG Kerk.
’n Herwaardering van die veelkantigheid van Andrew Murray mag die NG Kerk help in ’n herontdekking van ’n unieke en eiesoortige gereformeerde spiritualiteit en missionaliteit.
Een van sy bekendste gebede lui: “May not a single moment of my life be spent outside the light, love, and joy of God’s presence. And not a moment without the entire surrender of myself as a vessel for Him to fill full of His Spirit and His love.”
Geïnspireer deur die geïntegreerdheid van sy spiritualiteit, het ek begin om hierdie ’n daaglikse gebed te maak.
▶ Dr Frederick Marais is assessor van die Wes-Kaapse Sinode.