Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hervormingsfees 2017: En wat nou?

Feeste is gereël. Kore en sanggroepe het gesing. Gedigte is geskryf. Preke is gepreek. Konferensies het plaasgevind. Selfs kermisse is gehou om die Reformasie wat 500 jaar gelede plaasgevind het, te vier. Die groot vraag is: Wat nou?

Nadat die laaste note van die liedere weggesterf het, en die laaste woorde van die preke geuiter is, moet ons vra: Wat nou? Nadat die laaste kritiese vrae tydens konferensies gevra is moet ons dink: Wat gebeur nou? Wat gebeur op 1 November en 10 Desember? Watter invloed gaan hierdie feesviering hê in 2018 en 2019 en daarna?

As ons nie ’n duidelike antwoord op hierdie vraag kry nie, of ten minste ernstig daaroor nadink nie, was al die feesvieringe tevergeefs. As die herdenking van die Reformasie nie mense se hart aangeraak het en ver­ander het nie, was dit nutteloos en net nog ’n kerklike partytjie.

500 jaar gelede het die Reformasie mense getransformeer. Luther het, nadat hy Romeine 1:16-17 gelees het, besef dat hy kan ophou soek na God omdat God hom reeds gevind het! Hierdie wete het ’n Katolieke teoloog verander in ’n Gereformeerde evangelis. Luther sou later opmerk dat prediking nie prediking is as die evangelie van Jesus Christus nie aan mense verkondig word nie!

Nadat Calvyn gesê het: “Ek gee my hart aan God – hier en nou” is hy van ’n vlugteling- Franse predikant in ’n teoloog verander wat die wese van Gereformeerd-wees in sy Institusie neergepen het. Die Reformasie was veel meer as kritiek teen die Katolieke kerk – dit was ten diepste ’n hartsverandering van mense.

500 jaar later is dit dalk deels die antwoord op die vraag: “En wat nou?” – moet dit die gevolg van die feesvieringe wees – mense, lidmate wat verstaan dat hulle vrygemaak is om vreugdevol te leef. Gelowiges wat verstaan dat hulle ’n roeping in hierdie wêreld het as gestuurdes van die drie-enige God.

Dit is nie sonder rede dat Luther geskryf het dat die kerk as strydende kerk, ecclesia militans, op weg moet wees deur die wêreld nie en dat alle gelowiges opgeroep word om deel te wees van hierdie opwegwees, sodat almal aan die einde deel kan wees van die triomfe­rende kerk, ecclesia triumphans.

In Suid-Afrika beteken dit dat gelowiges nie langer sal terugdeins van korrupsie en misdaad en armoede en vrot onderwys en die verval van infrastruktuur nie. In Suid-Afrika beteken dit dat die kerk wat die Reformasie gevier het, iets daadwerkliks sal doen – soos talle kere in die verlede.

Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top