Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Albert Alberts van Plettenbergbaai skryf:
Die meerderheid Christene voel ongemaklik oor die onderwerp van transgendermense. Die begrip genderdisforie verwys na ’n konstante diepgaande ongemak tussen die biologiese en sielkundige geslag van die persoon. Dit voel letterlik soos ’n man wat vasgevang is in ’n vrou se liggaam en andersom.
Die insidensie word bereken op ongeveer ses transgender mense in elke 1 000 persone. Dit is belangrik om te besef dat dit nie gaan oor die begrip gay of lesbies nie (alhoewel verwarring veroorsaak word omdat dit deel is van die LGBT-bespreking).
Die oorsaak is onbekend, maar die huidige beste verklaring is dat alhoewel die liggaam in die baarmoeder in ’n spesifieke geslag ontwikkel, die brein na die teenoorgestelde geslag neig (sg “brain-mapping”). Die persoon self kan dit nie beheer nie. Kinders van ’n vroeë ouderdom sal spontaan so begin optree. Dit moet onderskei word van die “tomboy” meisies of die fyner seuns.
Vanuit ’n konserwatiewe teologiese oogpunt is die begrip ’n probleem vanuit die perspektief van die skeppingsverhaal en daar is tekste soos Deuteronomium 22:5 wat na mans in vrouekleredrag verwys (alhoewel dit oor heidense praktyke gaan). Vanuit ’n morele oogpunt is dit nie die persoon se keuse nie, en behoort dit met empatie en maksimale ondersteuning hanteer te word sodat die persoon aanvaar kan word en ’n doel in die gemeenskap kan besit.
Vanuit ’n Christelike oogpunt is die begrip manlikheid en vroulikheid noodsaaklik om die wese van die begrip kerk en evangelie te verstaan. Ons moet egter die begrip verwerp dat hierdie ’n sondige keuse en opsetlike ongehoorsaamheid is. Ons kan dus die persoon in sy of haar nuutgevonde manlikheid of vroulikheid aanvaar en ondersteun. Ons opdrag moet wees om ook pastoraal vir die persoon te sorg.
Ons kan sekerlik vir ’n transgender mens dieselfde genade en ontferming gun as wat ons so geredelik in ons eie lewe ervaar. As Christene glo ons dat God elke hoofstuk van die persoon in die holte van sy Hand hou en dat die persoon eendag by die voleinding waarlik volmaak sal wees in die teenwoordigheid van God.
